4.4.11

Ek's nie bygelowig nie

Ek’s nie bygelowig nie, maar jou palmlyne
lyk nes myne. In my oë swem jou sterreteken.
Jy’s tuis in my waterteken se dale en kruine.

My hart gooi dolosse. My bloed sloof
soos rooiafrikanerosse deur die stof.
My ossewa is oppad na jou plaas toe.

Moenie bekommer oor die klaar-koffie nie.
Ek bring vir ons groentee saam.
Agterna kan ons mekaar se teekoppies lees.

Sulke sondige praktyke hoort nie
in ons poorte nie, maar selfs die duiwel weet,
dat ons is bedoel om een vlees te wees.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

No comments:

Post a Comment