29.5.11

Vir wat dit werd is

Vir wat dit werd is ry ons roekeloos
en bloots die liefdesperd (daardie steekse hings
wat sweet skuim in sy swart flanke,
bronstig oor die lewe wat nog met ’n naelstring
van die hemelse plasente hang) asof
daar geen stof-tot-stof onder sy kloppende
graniet hoewe (nes harte van voortplantende
verliefdes, bedwelm in mekaar se sweet
en skuim en naelstring en plasenta) is nie.

Vir wat dit werd is doen ons dit (nou, terwyl
die son nog koud is en voor ons lywe oud is)
sonder toom of saal of eindpaal of langtermyn
verwagtinge (behalwe rou retrospeksie), wánt
die liefdesperd komeet verby, dalk eenmaal
in een leefseisoen       en die lus (wispulturig
soos ’n tong) droog saam met die lewe lek-lek op.

Vir wat dit werd is ry ons roekeloos en bloots.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

No comments:

Post a Comment