29.9.11

Sien die oumense

Sien die oumense.
Hulle vaal gesigte deur tyd en arbeid geërodeer;
die blossende jeug, eens wulps soos faanramme,
is afgeskilfer; in roesvlekke slaan hulle velle uit;
yl lê die donsdunhare op kuikennaakkoppe.

Verbeel jou onder al die lae klere (noodgedwonge
om die slakslymsirkulasie van stol te hoed),
daardie aardige (want aarde is jy en aarde word jy weer)
verlepte oumenslywe      oumensvleise tot leer gelooi
deur die lewe      deur die gejaag na lewe – alles tevergeefs.

Die dood kom. Daar is geen haas aan haar nie.
Haar skrede trap voetjie-vir-voetjie steeds verbete
sonder enkele misstap sonder enige swik of swenk
soos ’n getroue os op die ploegland kom die dood.

Ook God sien die oumens en skud sy kop.
Nie in afkeur nie, maar in medelye...
Nee, stellig nie medelye nie! Wat weet God van oud word af?
Maar God, meer as enige toeskouer, sien altyd die tragedie raak:
Die verkrimpte pasgebore baba – asem in – snel deur nuuskurigheid,
jagsheid,verantwoordelikheid en verkrimpte oudheid – asem uit –
soos ’n blom.

Luister na die oumensstem. Die lewensvuur, wat op ’n tyd
hoog gestook was in ’n oomblik van orgastiese soetseks,
het afgewaan tot klam bewende loute – kabbelend soos urinering.
Ja selfs in die pis hoor jy dit. Die blaas het geen meer ambisie nie.
Die sluise is lam en sonder waterdruk.

Die ergste is die oë: juwele wat in dowwe spoelklippe verander het.
Dis die verlange in die oë wat die ergste is; die wete, die gedwonge
erkenning dat die olie klaar is, die wik opgebrand is,
selfs die lantern bros is. Ongeag die veggees, die neerlaag,
die neerlê, is onvermeidelik. Sy het gewen. Sy wen altyd.

Maar God bejammer sy verkrimpte kinders nie,
want God weet dat die lewe ’n ruspe en die dood ’n papie is.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

No comments:

Post a Comment