17.12.11

Raad 1

My kind,
jy ruik vars:

vars soos ’n pasgebore brood
soos ’n perskeboom waarop die sterre
laasnag neergedaal en watte geword het
soos bokspring kalwerliefde na die reën
wanneer haasbekkies om die kys vra

terwyl jy nog vars is
gryp hom vas, my kind,
hou die lewe grootvas met jou klein hande
staan wyd en grou jou stomptoontjies
soos bergbokkloutjies teen die krans

wurg hom, my kind,
wurg hom vir alles wat hy het

suig sy murg leeg
tot jy blink om die bek:

spekvet en gelukkig!


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

3 comments:

  1. Ek lees
    My kind,/jy ruik vars:
    en ek weet skielik hoekom jou gedigte my
    aanspreek. Hulle vars heerlike eerlikheid
    praat my taal en, al laat ek nooit 'n spoortjie nie, geniet ek elke nuwe ene!

    ReplyDelete
  2. Anoniem, ek is bly om te hoor dat jy die gedigte geniet en dis wonderlik om te weet dat al bly mense op verskillende uithoeke van die planeet, 'n mens steeds dieselfde "taal" kan praat.

    Omtrent eerlikheid, dis, mynsinsiens, een van die enigste pligte van 'n kunstenaar--om eerlik te wees.

    As die gier jou byt, kom laat maar weer 'n spoortjie in die toekoms.

    ReplyDelete