1.12.11

Verjaarsdagwense

Díe dag,
vandag,
jou verjaarsdag
het my onverwags betrap

soos die Wederkoms.
Dit was nes in die dae van Noag –
ek het nie gedrink nie,
maar ek het geëet en gedink aan trou.

Soos die Wes-Transvaal se lente –
die takke swel pitswere
skielik (sonder serimonie) bars dit blertse:
semenwit      tepelpienk      skrotumperse

en dan,
die bloeisels
wat soet parfume poep.

En dan nog skieliker,
met ’n snik en ’n snak,
is dit somer.

Só betrap jou verjaarsdag my
en ek kry toe maar blomme
(nie tulpe nie, ek het jou al te veel daarvan gegee):
geel daisies en blou gesiggies en raffialint
en stasioneer dit in ’n fles in my kamer.

En toe bid ek maar vir almal wat vêr is
(maar nie vir jou nie, want gebede aan die dode is kettery).



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

2 comments:

  1. my gedooide
    verjaardag
    17 Desember 2006
    is so gesond
    dat ek byna-byna
    vergeet het
    maar tyd maak
    seer sagter
    en met die lees
    hiervan sit ek snot en trane en tjank
    vir genade
    om my bitter-seisoen
    te kon begrawe
    tyd heel alle wonde
    na winter moet lente kom
    'n wet ononderhandelbaar
    in die aarde se kors
    ingeskryf
    s t e r k t e

    ReplyDelete
  2. Ek is gelyktydig (weens selfsug as skrywer) bly dat my gedig jou tot trane kon dryf, en (met opregte empatie) jammer dat die gedig jou seer herroep.

    Dankie vir sulke mooi poëtiese replieke.

    ReplyDelete