20.3.12

Sommer maar net troos woorde van 'n pa aan sy dogter

Die vers kort eintlik nog baie werk, maar ek is nie lus nie, so hier is dit dan nou: sommer maar net. 


Hartskind, vertrou nie jou onderbewuste nie—

Hy's 'n liegbek!
Hy koggel jou met valshede:

Kloek dat jy kuikennietig is
sonder 'n vlerk vir skuiling;
kwaak dat jy onaanskoulik is,
(wat weet iets wat nie aanskou kan word nie van sulke dinge?);
Poets dat jy 'n pennie tussen ponde is,
(Dis omdat hy net pennies aangebied word, dat hy sulke snert kwyt raak).

Nee, my meisiekind—

Jy's 'n Vuurvalk,
nie 'n hoender nie;
'n Swaan,
nie 'n eend nie,
'n Krugerpond,
nie 'n sent nie.

Jou toekoms hou hemelse katedrale in vir vlieg;
berge staan in rye om jou hul skuiling aan te bied;
mere lê tjoepstil en hou hul asems op,
om nie jou asemrowende weerkaatsing leed aan te doen nie;
skatkisse slaan vuis vir die eer om só goue munt te huisves.

Nee, my prinseskind—

Luister nie na daai slegoom onderbewuste nie:
Hy's 'n vuilbek,
liegbek,
en as ek hom in die hande kry
gaan ek hom bliksem.
Niemand praat so van my mooikind nie!


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

No comments:

Post a Comment