18.3.12

Wat is gras?

'n Vryvertaling van 'n gedeelte van Deel 6 uit "Song of Myself" deur Walt Whitman.


'n Kind het gevra, “Wat is gras?”, en bring vir my handevol . . .
Hoe kan ek die kind antwoord? Ek weet net so min soos hy wat dit is.

Dis dalk die vlag van my gesindheid, uit hopevol groengoed geweef.

Of dalk is dit die Here se sakdoek:
'n geurige geskenk en aandenking aspris laat val
met die Eienaar se naam êrens op die hoeke, sodat ons dit mag sien,
en opmerk, en sê Wiesin?

Of dalk is die grasself 'n kind, 'n baba deur die planteryk geproduseer.

Of dalk is dit 'n eenvormige hiëroglif, met dié betekenis:
oralsom is wye areas en dun areas eenders uitgespruit,
tussens swartmense en tussen witmense groei dit,
Zoeloe, Xhoza, Tswana, Kleurling, Boer, ek gee aan elkeen dieselfde,
ek ontvang elkeen dieselfde.

Maar nou lyk dit vir my soos die pragtige ongesnyde hare van grafte.
Ek sal jou—krulgras—met teerheid behandel.

Dit mag wees dat jy uit die borste van jongmans sweet,
en dit mag wees dat as ek hulle geken het, sou ek hulle lief gehad het;
dit mag wees dat jy van oumense afkomstig is, óf van nageslagte—vroeg
uit hul moederskoot geneem,
en hier is jy nou—moeders se skote.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

No comments:

Post a Comment