30.4.12

'n Digter se hart

Ek is onlangs weer herinner dat ek 'n digter is
en dat my digtershart, soos elke digter se hart, 'n slet is.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

22.4.12

Onder 'n donkermaan

Vanaand gaan ek my velwissel
onder 'n donkermaan—

           'n hemafroditiese ek gaan dan,
           voor die dagbreek oopbreek,
           uit my kokon uit wikkel
           en die lewe se soet en sout,
           se warm en koud opvreet
           die nuwe ek
           maak nie onderskeid nie.

           More, wanneer hý voor my staan,
           of sý voor my staan, gaan ek
           nie diskrimineer nie. Aan welke tepel
           my gebied word gaan ek soog.

           My metamorfose laat my honger
           vir elke hart, alle niere, alle spiere;
           ek verorber als: manharde been
           en vrousagte murg, sening en gewrig.

—Vanaand, onder die donkermaan,
gaan ek my vel reptielies afskud,
my nuwe lyf uitstrek, versigtig inlyf,
en, slaggereed, my eerste prooi inwag.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

15.4.12

12.4.12

Die see

Die see is 'n oog vandag
Dit is oop en groot en stip
Dit gluur oor die hemelruim
Aandagtig vir 'n ruk
Dan draai dit om, kyk vir my
- fluister in my oor
“Die lewe is soms goed;
die lewe is soms goor!”

Die see is my vrou vandag
Rond en opgeswel
Gereed vir geboorte gee
“Aan die hemel of die hel!”

Die see is my man vandag
Sterk in buik en nek
“Vir jou kan ek lief hê;
vir jou maak ek vrek!”
Hy streel my oor my skouer
Hy vuis my deur die bek.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

9.4.12

soos in iets Italiaans

2005/2006

Kom ons belê in mekaar vanaand
soos in iets Italiaans.
Proe lank aanmekaar se al dante,
ruik elke gekruide kruinkie,
spreek dan ons waardeuring uit –
máma miiiaaa! met oordrewe lyftaal
emosioneel        luidrigtig,
volkeel       vollyf.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

8.4.12

Bipolêr

2005/2006


My bipolêre pel –
soms ’n septer
soms ’n lel.

My bipolêre siel –
soms ’n god
soms ’n piel.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

2.4.12

inmekaarin

ewig lê ons inmekaar:

ek skiet penwortel in jou klam rooigrond
en groei 'n boom
ons kapilêre hare velcro
pens teen pens gesoom
hartklop teen hartklop
monde in 'n ewige lis gekus
asem ek in wat jy uitasem
asem jy uit wat ek inasem
een ego eggo

:ewig lê ons mekaarin


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence