9.8.12

Landskapskilderye


By 'n uitstalling van landskapskilderye sien ek kranse: hoekige kranse
in groenfluweel gedrappeer soos die randte van grafte, en wolke soos tantes
met goedversorgde witpelse afgeëts teen hulle donkerblou begrafnisrokke;
en berge breed soos renosterrûe, en bergtoppe puntig soos jagse tepels,
en growwe bokserkneukels vir heuwels, en 'n waterval wat 'n vallei oopsny
soos 'n vagina se snit; en bome: kameeldoringbome met platpiering krone
wat soos waterlelies op die spansel van die hemel dryf; en bloeisels wat blink
nes kersfeesliggies, en blomme—gretige kuikenbekke wat hap-hap na bye;
en 'n bamboesbos, 'n houer vol strootjies; en 'n landskap oopgeverf soos 'n gedig.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

2 comments:

  1. Jy mag maar skryf. Ryk beelde wat jy hier gebruik. Baie mooi!

    ReplyDelete
  2. Dankie Boer. Dit was 'n lekker oefening om die skilderye te bekyk en toe te "bewoord", so met notaboek in hand.

    ReplyDelete