28.12.12

Onthou U Here?

Onthou U Here, daardie aand toe ek kom smeek het?
Dit moes 'n wintersaand gewees het,
want die benoudheid van my klaaglied
het soos 'n natgereënde jas koud om my geklou.

Onthou U Here, hoe ek onbaatsugtig, soos Christus u Seun,
nie om my eie welstand gepleit het nie?
maar vir die van mý seun—totdat my hart bloed gesweet het
en ek die voete van die olyfbome met my trane gevoed het.

Onthou U Here, hoe ek my vertroue soos 'n diertjie
in die linne van geloof na u altaar gebring het?
Hoe ek gesnik het, Here, “spaar tog my kind van díe verdriet,
want U is God en U is Goed, laat u goeie wil geskiet!”

Is dit Here, omdat ons nie u Seun gespaar het nie
dat ons seuns ook nie die noodlot vry spring nie?
Here, is U toe al die tyd moedswillig soos 'n kind,
daarom dat U my kind deur wolwe laat verslind?

Onthou U Here, daardie aand toe ek kom smeek het?
Was my pleidooie dan gekaap óf misplaas óf verskeer?
Hoe anders moet ek dan u stilswye interpreteer?
Is dit Here, omdat ons nie u Seun gespaar het nie?


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

No comments:

Post a Comment