22.10.12

as ek kon


'n Vertaling uit Engels van my gedig "A Love Proposal"


as ek
my hart soos 'n perske kon oes
dit uit my bors kon pluk
uit die hok kon steel
die aorta af kon bind soos 'n naelstring
dit kon afwas en toedraai in linne
dit met bies kon versterk teen die koue
en dit kon neerlê in 'n mandjie
versier met 'n groot strik—groot soos 'n hand;

as ek
dit voor jou deur kon los
dit vir jou soos 'n ring aan jou vinger kon gee
óf soos die lewensasem Adam ingeblaas
óf soos lente—opgekrul in die palm van God se hand
nes 'n baba krimpvarkie;

en as jy
dit sou aanvaar, dit sou inasem,
dit sou inneem soos soet perskes,
medepligtige sou wees aan die gevangenisontsnapping,
as jy jou bors sou bied vir bies en liefde,
jou borskas sou deel met 'n ekstra hart—om passievol
jou bloed te pomp;

as ek kon,
en as jy sou,
behoort my hart aan jou.




... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

5.10.12

Tronkvoël se wraak

Met verwysings na William Blake se "How sweet I roam'd from field to field" en Maya Angelou se "I Know Why the Caged Bird Sings".



jy verf jou mure hemelblou
en vang my met 'n net
jy tronk my in 'n voël se kou
en hang my bo jou bed

deur die tralies steek jy stokkies
jy skeer met my die gek
hoeveel ander is in hokkies
versteek in jou woonplek?

jy voer my kamma-liefdetjies
winkoog en blaas soene
'n man soek meer as krummeltjies
leegdop visioene

'n gehokte voël kan óók fluit
'n klaaglied is óók mooi
'n tronkvoël sing oor vryheid
en oor predator en prooi

eendag is eendag en ek is vry
ek weet tog waar jy bly
ek gaan jou aan die keel beet kry
jou koue hart uit sny



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence