23.6.13

só mooi

jy is vir my baie mooi
mooi soos geboorte
soos die geboorte
van slymvars verimpelde mensies
wat soos paddavissies hul naelstringe
soos stertjies afgooi—nat agter hulle voetoortjies
en nat onder hul oorvoetjies—vreeslik
mooi is jy soos die dood van 'n verimpelde
oumensie wat 'n vol lewe vol verdrukkende
hartseer en slymvarsgeluk—bietjies-bietjies
gewis soos brood en water—gehad het
en met 'n diep sug      die gees gee      en rus—
só, so mooi is jy vir my.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

21.6.13

Storm

hoog,
hoog bo die werwels
van kruin en van krans
stamp hulle kop:
die bulkende takbokke—roetgrys
en op hitte; hulle muskus stoom
in ons neusholtes, kondenseer
op ons hygende tonge, drup
met ons kaal lywe af soos sweet,
soos seks—ploeg met hulle silwer
horings en hulle drygende hoewe
klonte roes grond uit die aarde op;
hulle duik soos branders en die hemel
hou sekondes lank haar asem op—
en dan, die botsing:
die wollerige ramme, asof oorlogskepe,
pletter teen mekaar.      alles.      skud.
die ganse aarde bewe.      hulle pronkende
lywe sidder en vanaf elke regop haar drup
'n stinksoet druppel—skrikwekkend
besield soos testosteroon, spermatozoonverkwik
met lewensvonk—die vrugbare aarde drink,
en word dronk.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

15.6.13

Die pyn van liefde

'n Vryvertaling van 'n ou anonieme Kwakwaka'wakw gedig. 


Vuur stormloop deur my lyf met die pyn wat dit is om jou lief te hê;
pyn stormloop deur my lyf met die vuur van my liefde vir jou;
siekte loop sirkels in my lyf met my liefde vir jou;
pyn soos 'n blaas wat wil oopbars met my liefde vir jou—

Ek onthou steeds wat jy vir my gesê het.
Ek dink aan jou liefde vir my.
Ek word verskeur deur jou liefde vir my.

Waar gaan jy heen my geliefde?
Ek hoor jy gaan weg hiervandaan.
Ek hoor jy gaan my hier agter laat.

My lyf is verlam van verdriet.
Onthou wat ek vir jou gesê het, my lief.
Tot weersiens, my lief, totsiens—


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence