29.7.13

vir alles is daar 'n prys

daar is maniere om wraak te neem
daar is metodes om die son se verkoolde hart
seer te maak, om hom terug te kry
vir al die kere wat hy onsimpatiek opgekom het
vir al die kere wat hy sonder meegevoel geskyn het
toe jou eie hart gebrand het van verdriet
en hy jou geheime pyne aan die dag gelê het
sonder empatie ontbloot en gekollig het
daar is werkswyses, daar is strategieë,
om selfs die magtige son te laat les op sê
is daar toorwoorde en donkerpraktyke
sodat hy op daardie dag, wanneer hy sy laaste
sametrekking kry, sy laaste lou walm afskud,
aan jou sal dink, en spyt sal wees
dat hy nie saam gehuil het nie
daar is maniere om jou op die son te wreek
om jou hart op sy laaste oomblik oop te breek
om sy sputterende spastiese lont
met jou eie vingers dood te vryf
is daar maniere om dinge gedoen te kry:
jy moet net die regte gode ken
vir alles is daar 'n prys



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

No comments:

Post a Comment