24.9.13

’n sms in perspektief

die heelal ʼn balkon
die buitelig ʼn son
die motte is planete
die muggies is komete

daai geitjie ʼn gravitasiekolk
en jou sms: ʼn dolk
met gelaktiese gevolge:
aan kosmiese wonde
bloei my siel leeg

ek is geweeg: te lig gevind?
hoe is jy van die liefde ontblind?

ligjare ver sterf ek—
sedert die Grootknal al
is ek aan die vrek,
nes die ganse grote hele heelal—

jou sms kom reeds soos die eerste sonde
en ek sterf soos Christus aan Adam se wonde



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

20.9.13

Herfs in Korea

soos opvoustoele waggel geknakte tantes

onder goddelike hoë akkerbome en pluk
met lou eensame hande stowwerige akkers
– slakglad – uit die grond. geen sug of kreun
verklap die weiding nie, want die statige gode
gee; al gee hulle suinig en stadig en afsydig.

winter is oppad. sy hurk soos ’n glibberige padda
agter rusland se berge en hou met wolfteefoë
die moeë tantes dop. haar tong lê afgerol soos
’n kadawer. haar pisnatsnoet stoom. daar is oorlog
in haar wasemde asem.

maar dis die blare wat protesteer. die vurige blare
paradeer soos gouefisanthane; vlamtrosse aap
hardnekkig aan die takke en roep soos shamane
na die son met gekreukelde, geverfde gesigte.
protes tot die dood.

korea is moeg. moeër as die tantes. moeër as die akkers.
moeër as haar verkragte oewers, tot drekklei
en strontsand getrap deur japanese, sjinese, russe,
mongoliërs, jagse amerikaners, arm suid-oos asiërs
wellustig vir die tantes se rys en akkerbredies.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

Blom

Vryvertaal uit Koreaans vanaf 'n gedig deur Kim So-yeop


My liefling!
Jy's nie 'n man nie.
My liefling!
Ek is nie 'n vrou nie:
Nie man of vrou nie, maar mense.

Die oggenddou was sewekeer
die kiem van ons liefde –
laat 'n naamlose saad:

Ek wil jou tuin heen gaan
en in besonderse bloeisels blom.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

13.9.13

ons loop trots

Hierdie voetslaanpad is nie geplafei nie,
die duike is nie opgevul en die hewels nie plat gefyl nie:
inderdaad, dié pad is nie vir 'n koning voorberei nie,
dis 'n wandelpad: vir diere en gepeupel,
vir gewone hardwerkende gewemel, soos ons—

maar my liefling, fok die koninklikes: ons loop die pad
met ons eie voete—ons trap ons lewens oop, tree vir fokken
tree, self: as ek val help jy my op, as jy moeg is abba ek jou
en af en toe rus ons teen 'n skurwe krans en skep
ons asems met bakhande uit 'n spruit tot lafenis—

ons loop die pad begrafnis toe self: elke oopgebarsde blaas,
elke rou gevalde knie, elke litteken, elke blek, elke traan
is 'n merk dat ons geleef het—dra jou medaljes soos 'n veteraan:
trots en voorbarig! want, my vriend, dit is welverdiend.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

8.9.13

ek het ook op 'n tyd 'n moeder gehad / Once Upon a Time I Had Also Had a Mother

Ek het ook op 'n tyd 'n moeder gehad

ek het ook
op 'n tyd  
lank gelede
toe wolke nog diere en skepe was
'n moeder gehad

'n ma

'n mamma

wat soos 'n god
my lank lank gelede
gesoog en versorg en verknog het
wat in my die potensiaal gesien het
wat slegs God en moeders kan sien
wat die eerste vrou in my lewe was
die templaat vir al wat vrou is
van Eva tot nou is

ek het ook op 'n tyd 'n moeder gehad

en soos alle moeders het sy ook
onder jou koue lem beland
jou rypvingers het haar om die keel gegryp
en God het staan en toekyk
want dis die lot van alle moeders
dat hulle kinders kan onderskei
tussen God en mens
tussen Hom en klei

op 'n tyd het ek ook 'n God gehad
soos 'n moeder

Once Upon a Time I Had Also Had a Mother
I had also had
once upon a time
long ago
when clouds were still animals and ships
a mother
a mom
a mommy
who like a god
long long ago
nursed and cared for and pampered me
who saw in me the potential
that only God and mothers can see
who was the first woman in my life
the template for all that a woman can be
from Eve till now
I had also had a mother once upon a time 
and like all mothers she had also
come under your cold knife
your frigid fingers had her by the throat
and God was just looking on
because this is the fate of all mothers
so that their children can discern
between God and man
between Him and clay
once upon a time I also had a God
like a mother


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence