9.8.13

Onkundige sonnet

ek weet nie hoe vrouens se koppe werk nie
of mans se koppe of kinders s'n nie
ek weet nie eens hoe myne werk nie:
hoe die sappies veronderstel is om te prut
en die vonkies veronderstel is om te spat
en al daardie draadjies en takkies en padjies
maak dat ek kan dink en misdink nie

ek verstaan nie die lewe se meganismes nie:
die kleppe en pype en buise en ratte nie
en hoe alles roteer en inmekaar pas nie

en, ag fok, die liefde verstaan ek regtig nie:
hoe 'n katmens 'n hondmens lief kan hê
of 'n ingenieur 'n digter inspireer nie

halfpad deur my lewe en ek verstaan nie eens 'n sonnet nie



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

4.8.13

sedert dinsdag

die son kom op
die son gaan onder
die dag is blou
my hart is donker

sedert dinsdag reeds ignoreer jy my
jy bel nie na my huisfoon of my sel nie
jy los geen boodskappe, nie stem of teks nie,
my e-pos se inlaai is vol gemorspos
(alle pos wat nie jou pos is nie is mos)

die son gaan onder
die maan is donker
die son kom op
my hart is blou

die son is op
my hart is rou
die son gaan onder
sonder jou


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence