23.12.13

Eendag is eendag / One day for sure

Eendag is eendag

Eendag gaan ek jou nog afskud
soos 'n perd sy inbreker
of soos bloed van hande,
of soos 'n verantwoordelikheid,
of 'n ou tradisie, 'n superstisie,
of watter ander derglike dekselse ding
waarvan 'n mens jouself van kan afstroop,
jouself van kan afwas, van kan detoks,
kan opkots, uitkots, wegtos.
Eendag gaan ek dit nog regkry
om myself los te skud van jou,
myself los te wringel uit die doringbos,
myself—en my hart—te bevry.

Eendag is eendag. Maar nie vandag nie.



One day for sure
One day I will yet shake you off
like a horse it's trainer
or like blood from hands
or like a responsibility
or an old tradition, a superstition
or whatever other such damned thing
one can strip oneself off of, 
one can wash oneself clean of, one can detox of,
one can vomit up, puke out, toss away.
One day I will yet succeed
in shaking myself loose of you,
in wriggling myself free from the bramble bush,
in freeing myself—and my heart—from you.
One day for sure. But not today.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

22.12.13

Die vergenoegde digter

die vergenoegde digter
sit sy veerpen neer
gooi 'n sakdoek oor sy tikmasjien
maak die woordverwerker toe
en klik op YouTube

die vergenoegde digter
se hart het nie meer pleisters nie
die littekens is vaag en vergete
sy maag is vol, sy keel is klam
hy het vrede met sy gewete

die vergenoegde digter
is oud, getroud, sy tollie krom

die vergenoegde digter
se hart is lou, se siel is stom.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

12.12.13

allermins / after all

allermins

dit is, allermins, hoe die lewe is.
mense sterf. daagliks. alleen of in groepe.
maar vir ons sterflikes
is daar geen aardskuddings,
is daar geen sonsverduisterings nie.
die blou tol draai voort.
die geel gloeilamp skyn aan.
sonder wankeling.
sonder flikkering.
sonder simpatie.
sonder nabetragting oor die sterflikheid
van die kortstondige sterflikes.
want dit is, allermins, hoe dit is.
om te lewe is om te sterwe.
nie Vader Son nóg Moeder Aarde
gee 'n dêm om nie.

maar vir wat dit werd is, my geliefde,
ek gaan jou mis.



after all
this is, after all, how life is.
people die. daily. alone or in groups.
but for us mortals
there are no earthquakes,
there are no eclipses.
the blue top continues to spin.
the yellow lamp continues to shine.
without wobbling.
without flickering.
without sympathy.
without musing over the mortality
of us momentary mortals.
because this is, after all, how it is.
to live is to die.
neither Father Sun nor Mother Earth
gives a damn.
but for what it is worth, my beloved,
i will miss you.  


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence