31.1.14

Honger

2006/2007


Ek honger: vir jou vat
aan die brug van my heupe,
en vir jou asem wat in repe
teen my vleis kom klad,
wanneer ons kopuleer;
: vir jou stuip      my beur,
: vir jou sinkroniseer
onder palms
wat wind oor halms
golf en spat      golf en spat.
Ek't honger,
Ek't hongersnood honger vir jou.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

30.1.14

Bamboesbos

2006/2007


laat ons ontmoet in die bamboesbos
waar die smaragte langbeen elkaar ritsel
soos skoffelende vingers op ’n lier,
soos vere en vlerke en papierwaaiers
                                                            laat ons ontmoet

laat ons ontmoet in die groen soenbos
die bamboeswagte hou kywie
gewaar hoe hulle erektiele waghou-spiese
ons bewaar, die liefde binne, die haat buite,
                                                            laat ons ontmoet

laat ons ontmoet in die firiele bos
van olyfgroen stutte en lemmetjie-groen latye
wat katedraal oor ons bamboeslywe
styfglad en kaalgespan soos reiers staan
                                                            laat ons ontmoet



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

13.1.14

Migrasie

[Nou nie juis een van my beste pogings nie, maar soms moet 'n mens die rowwe sketse ook die dag laat sien.]


Met vakansietyd word die buitelander ooievaar,
migreer kortstondig terug na sy uitbroeiland;
maar landshervorming het sy geboorte-nes,
en geboortebloekom om gebulder—
net vir ingeval pik hy deur die koerante,
maar swartekonomiesebemagtiging
sê ooievaars is te wit, is europeers;
vir oulaas kyk die witvoël rond
vir 'n hen (of haan),
maar hy was te lank uitlandig;
almal is reeds ge-nes en gepaar
of nou geskei met kuikens
en bagasie te swaar vir die rit na die vreemdeland,
en so vlieg die haan alleenig terug
na die verreland,
sonder hen of kraai of remembrand.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence