9.12.14

'n Gejaag na wind

Wie, hier, kan vir my sê:
waar die westewind haar kop neerlê,
waar die oostewind haar skuilingvind,
waarheen my mooi liefling gegaan het,
waarom sy my agter gelaat het?


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

Stilstuipe

asseblief, sê tog iets.
sê iets voor die son opkom.
voor al die gespikkelde kwarteleiers
wat ons deur die nag gelê het, uitbroei.
sê iets voor die uitgebroeide kuikens
op ons kliphart-altaars as sondeoffers uitbloei,
voor een of ander demoon of dreksel die offermaal
bywoon, voor magte ons lot verseël met bloed en spoeg
en groot donker woorde, voor dolosse rol en ons derms
in kringe op die karos lê, vóór die bliksems bulder
met sonsopkoms—sê tog asseblief net iets,
sodat ons kan soen en die hemel te hulp kan roep!


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence