9.12.14

Stilstuipe

asseblief, sê tog iets.
sê iets voor die son opkom.
voor al die gespikkelde kwarteleiers
wat ons deur die nag gelê het, uitbroei.
sê iets voor die uitgebroeide kuikens
op ons kliphart-altaars as sondeoffers uitbloei,
voor een of ander demoon of dreksel die offermaal
bywoon, voor magte ons lot verseël met bloed en spoeg
en groot donker woorde, voor dolosse rol en ons derms
in kringe op die karos lê, vóór die bliksems bulder
met sonsopkoms—sê tog asseblief net iets,
sodat ons kan soen en die hemel te hulp kan roep!


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

2 comments:

  1. sjuuuutt . . . . . . as jy fyn luister, hoor jy dalk net hoe haar hart se snare die ornamente weerskante van haar kop toestop met alles wat die verstand te bowe gaan ......

    ReplyDelete
  2. Genugtig Anoniem, maar dis een van die mooiste kommentare op 'n gedig nog!

    ReplyDelete