19.8.14

Belemmer / Blundered

Belemmer

'Jy het die liefde-van-jou-lewe verloor,'
sê jy asof ek dit nie weet nie—
my hartklop is
          uit gelid;
my toekomsdrome is ou verbruinde kiekies
tot as verbrand; my hoop wat eens
na lemoenbloeisels geruik het, het gegis
en asyn geword; my holtes wat op 'n tyd
reservoirs vir liefde was, is nou stowwerige
pakkamers van ru verlange en kru verlies.

Wat jy nie begryp nie:
lankal reeds het jy my verloor
—'n lyn van 'n gedig of melodie
as mens aan die slaapraak en dan verdamp,
soos 'n skaduwee wat skrik vir 'n bedlamp,
soos kiekies in 'n vuur, soos hoop wat te lank
in holtes en hole vergete laat lê is;
soos 'n ridder wat 'n soen belowe is,
maar ongekus is—jy het ons reeds
daardie eerste keer belemmer,
toe jy my hart verruil het,
en op 'n ander hart
se klop gewed het.

Nee, ek wil nie met jou trou nie.
Jy is nie meer my trouvrou nie.


Blundered

'You have lost the love-of-your-life,'
you say, as if I don't know it—
my heartbeat is
         out of step;
my future dreams are old browned photos
burned to ash; my hopes that once
smelled of orange blossoms had fermented
and turned vinegar; my hollows that were once
reservoirs for love have become dusty
storerooms of raw longings and rude losses.

What you do not comprehend:
you have lost me already long ago—
a line of a poem or melody
when one falls asleep and then evaporates,
like a shadow frightened of a bedside lamp,
like photos in a fire, like hope left lying
forgotten in hollows and trash heaps;
like a knight that was promised a kiss,
but with lips untouched—you blundered us
already that first time,
when you exchanged my heart,
and bet on the heartbeat
of another.

No, I do not want to marry you.
You are no longer the one for me.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

16.8.14

Speeksel-sentiment

Vanaand het ek my tandeborsel,
met sy hartseer verlepte kapsel,
in die asblik gegooi.

Sonder 'n tandeborsel van my eie
het ek my aan jou tandeborsel,
wat vir maande reeds soos 'n verlange
geplant staan in my badkamer, vergryp.
Sal jy bly wees om te verneem
dat dit nog in 'n goeie toestand is?
Die haartjies: tril-regop soos 'n wilde
territoriale diertjie wat spoeg en sis.

En hoekom dit nie gebruik nie?
Dis nie asof jy terug kom om
die vergete wees op te raap nie.

Hoeveel ander tandeborsels was teen
hierdie tyd nie reeds intiem met jou mond
soos my mond met jou mond was nie?
Hoeveel ander tandeborsels ken nie reeds
die groewe van jou verhemelte soos net die tong
van 'n geliefde die verhewe hemelte
van 'n geliefde se mond ken nie?

Hoekom dit nie gebruik nie?
Sal ek dan gril vir dit wat ek eens bemin het?
Was jou kieme en my kieme
nie op 'n tyd mekaar se geliefde kieme nie?

Ek verbeel my ek proe jou:
en skrop my tande en vleise,
binnewange en buise—
my erektiele tong krap ek
vol van jou eentydse atome
en ent myself homeopaties
met jou peperment essensies. 

Van môre af is dit my tandeborsel
en nie meer joune nie.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence