31.10.14

Seisoenale verdenking / Seasonal Suspicion

Seisoenale verdenking

Hy weet dit is herfs
want die ginkgo biloba
sidder geel—soos verdriet;

en hy weet dit is herfs
want die esdoornboom
skud bloed van haar hande af.

Dit is herfs, en hy weet dit,
want sy binnegoed is bruinblare
en hy staar voëlverskrik na sy verlede.

Dit is herfs. Ongetwyfeld is dit herfs.
Want alles sterf tog so verskriklik mooi
nes die noodlotige son in brons en in rooi.


Seasonal Suspicion

He knows it is fall
for the ginko biloba
trembles yellow—like grief;

and he knows it is fall
for the maple shakes blood
from her limbs.

It is fall, and he knows it,
for his insides are brown leafs
and he stares like a scarecrow at his past.

It is fall. Undeniably fall.
Because everything dies so awfully beautiful
like the fated sun in scarlet and in bronze.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

13.10.14

Raison d’etre

Ek belê—glo dit of nie—in die digkuns:
maak kiste vol woorde bymekaar en kaste vol beelde
en kluise vol metafore en ryg op hangers honderde—
nee duisende—rympare en in houers prop ek klingelde klinkers
vir binnerym okkasies en ek maak plakboeke vol intertekstuele assosiasies
en emosies word versigtig volgens kwaliteit (pyn of plesier) 
en intensiteit (soensag of donnershard) 
en langdurigheid (oogwink flink of tot-die-dood-ons-skei)
gekategoriseer en ervarings word vernuftig alfabeties geïndekseer:

A vir aarbeie en room: onthou jy?
B vir borste en boude. Hoofsaaklik joune.
C vir cafés en cinq à sept, en so aan,
D tot Z.

My geliefde, pardon die cliché:
jy’s my vers se raison d’etre.

10.10.14

Platvloerstuis

Daar is ’n kraai, swartnat gereën van verdriet,
en ’n kat, ewe nat en miserabel gebad
in die sorge van môre, en ’n treurige hond
sonder baas, en ’n sielsverskrikte kaaslose muis—
almal ewe lewensmoeg en platvloerstuis in my hart.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence