2.2.15

Erfsonde

Sy stap in purper
(wat `n pretensieuse woord: “purper”
wat met niks relevant wil rym nie—
usurper? opsweper?)
met die korridor tussen die Gautrein
en Oliver Thambo af; die oosterse rok
klou kalander-koggelmander aan haar.

Al my mansjagse sintuie skerp skielik op
met haar verbystap en deur die venster
spring my verbeelding luiperd en ruik
my snoet jasmyn en sweet en proe my bek
kaneel en bloed.

Vir `n oomblik         kortstondig en fragiel
soos die stuiptrek van `n vinger aan `n sneller,
soos die ontspan van vingers om `n boogsnaar,
soos die sug ná semen- en bloedvergieting
beken ek haar as buit,
herken ek deur die ruit ‘ek’:

Nimrod—

die oertipe jagter, verkragter, land- en vrouerower;
die seun van Gam, die seun van Noag,
die seun van Adam—die Usurper,
aangenome seun van die Opsweper.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

No comments:

Post a Comment