10.11.23

Gee my jou hand

gee my jou hand, wys my jou palm:
ek wil die riviere daarop navigeer,
die salm opwaarts volg na die kuitwaters,
my skuit anker by daardie vrugbare plek
waar silwer grashalms soos nimfe in die strome
onder die volste maan dans;
 
neem my hand as offergawe:
brand dit op die altaar van jou hart
en laat die wierook opwaarts rank
na daardie ver geheime laer
waarvandaan muses mites duif
na skribent en bytelaar;
 
laat ons hande hou soos jong en ou verliefdes:
vir wie ingepalmde hande omhelsings is,
vir wie ingevlegde vingers wellustige lywe is,
vir wie hande vat ’n verbond is—
laat ons velbakterieë met die hand groet,
mekaar verken, beken, en kruisbestuif.

... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

31.8.23

Por farvor

'n filament flikker deur die donker firmament —

momentele enlightenment — dan,

'n onmiddellike ewigheid later: dié knal

galm deur die ganse heelal

en die daaropvolgende benoude ontnugterde asemophoustilte;

en dáárna     'n lukraak ritme van vallende pêrels,

óf albasters, of planete oor 'n marmervloer:

 

asof veertig dae

en veertig nagte

hurk ons soos kuikens

onder vere en luister hoe die gode

daar buite ons, of die mensdom, se lot beklink;

hier binne bibber-broei ons kaal lywe

teen mekaar en bid ons dat die vorste,

al is dit net vannag

(want môre bring sy eie bekommernisse),

die dak en ons bed en die laer sal spaar — por farvor

 

en wyl ons bid, dalk ook die meubels en meublemente,

die koelkas en spens, die kookware en breekware,

die kluis en dokumente, die albums en sentimente

 

bowenal, natuurlik, o Groot Heelal, spaar 'seblief

ons nietige lewens: kaalgat-ek en my kaalbas-lief



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

14.5.23

Besing alles—alom

“Self,” beveel ek, “besiel ’n vers: blaas oor woorde

en laat dit leef, laat dit uit die niet uit opskiet

soos woestynblomme; laat dit vraatsugtiglik gaap

soos veerlose kuikens wat vetsugtig lus het vir wurms

en die grote ope wye hemel; laat dit van die blad af spring

soos sebravullens ná ’n donderbui: swart streep letters

klop-klop galop oor wit papier.
Luister, Siel, krabbel dit of tik dit of duim ’n feestelike vers

vir als wat leef—en ooit geleef het—

’n inspirerende ode aan woorde en moontlikhede. 

Want wie’s te wete of die son

nie dalk oomblikke terug geblus is nie? 

Dus, verderflike mens, voor die koue duisternis kom, 

besing alles—alom.”


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

18.3.23

karakter bou is nie vir kleinseuriges nie

Met domlomp vingers
kerf ek my karakter uit akkerhout,
met stomstomp kloue
klou ek verbete aan die wiegeliedjies
en kampvuurstories van my voorouers
wat in hul beurt ook bouers van karakters was:

ook verkragters en veroweraars was
en slawemeesters en geweldenaars;
óók slagoffers was, verwilderde
vlugtelinge was, slawe en verslaafdes,
en gekruisigdes:

ons moet ons voorsate se stories ken,
laat ons ons voorgeslagte se vergete mites
verken soos avontuurlustiges: die weeldigste
motiewe skuil in muwwerige grotdonker dieptes
waar die bedraaktes grommig is.

kyk broers: ’n penmeester kan óók eelte
op sy hande en blase op sy vingers hê;
neem notisie susters: sien al die stapels
wat met bloed-ink geskribbe is,
gewaar die opgetekende aanklagte
van ongeregtighede en onregverdighede:
teen julle my moeders en susters en dogters,
maar kyk nie die oumans se brûe rûe mis nie—
met geboë hoofde dra hulle generasies op hul skofte,
en kyk nie die jonges se wellustige avontuurlus mis nie.

Dankie moeder en vader en moeder se moeder en vader se vader,
en vroumens en mansmens en vroumansmens en mansvroumens
en mansmans en vrouensvrou: vir almal is daar ’n avontuur
en ’n draak en ’n karakter om te kerf uit hout:

karakter bou is nie vir kleinseuriges nie.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

3.1.22

Suppliseer

Wysgier,

luister, hoor dié dierlike grom
wat drom in my krop—stop jou stommigheid
en deel jou wysheid, verklaar watse beneukte
dreuning vibreer hier in die grotkamers
van my ribbekas—is daar drake?
wat na jare hulle vas wil breek?
en nou wil deurbreek, losbreek, uitbreek?

Magiër,

gee ag op my roep, neem notisie
van my hulpkreet: herroep
die ou profesieë, lê uit, ontbloot, openbaar—
ek weet iets dergeliks is op hande:
lees my palm, bespeur my iris,
gewaar my lot en verklaar
vanwaar die noodlot se winde walm!

Alchemis,

gewis jy wis wat was en is—dus,
sink in ink jou penveer en graveer
die tekens van ouds, laat die kerslig
jou titsels toelig, formuleer ’n hipotese:
is dit reuse? uit die oertyd?
wat lank in haat en in verwyt
nou uit hibernasie tot wraak ontwaak?

Priesteres,

my geloof is dun, my hoop is yl—het jy vir my
’n spreuk of les om sin te maak, of woord of fles
van die gode as balsem vir my onrustige gees?
Of dalk ’n wapen vir beskerming: ’n dolk of swaard,
’n spies of skild, ’n hamer of helm of mantel ondeurpriembaar?
Watse offer kan ek bied? Wie se bloed moet ek giet?
Hoe is rus vir my siel bekombaar?

Troebadoer,

keel jou lied en lip jou vers: neurie ’n wysie,
komponeer ’n rympie, sing ’n minnesang

wat kan resoneer met die verlang van my hart.

Stram jou lier, laat dit kwinkeleer en vibreer
soos kat-op-skoot, soos skat-in-skroot:
smeek die Muse my onthalwe—
met vuur-verruklik my binneste te salwe.  



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

5.3.21

On a Wandering Day

A translation of Kim So-Yeop’s poem “떠도는 날에”


One day, unbeknownst to me,
a thief slipped inside,
stole my heart,*
and ran away. 

In search of my lost treasure
I wander for ten years, 
until on the tip of a naked twig I meet the sun,
then turn back home.

I break the rusted lock
and enter my room:
for ten years my heart, now rusted too,
lay waiting unharmed in the dust.


* “heart”, line 3: the word “마음” can translate as both heart and mind.

---

While it seems simplistic at first, the poem is an allegory of enlightenment (satori). Upon an encounter with the Sun, the speaker realises that the thing she thought was lost were actually always there, inside, if only she had looked. The lost "heart" symbolizes the lost center, but also ignorance, for "heart" also suggests the mind in Korean. Finding her heart implies finding spiritual understanding (satori, #깨달음).

Original Poem:

<떠도는 날에>

 

언젠가 나도 몰래
도둑이 들어
내 마음 모두들 훔치어
달아나 버렸네
.

 

잃어버린 보물 찾아
헤매인 십 년
빈 가지 끝에 걸린 해를 만나곤
비위 둔 집으로 되돌아왔네
.

 

녹슨 자물쇠를 부수고
내 방에 들어와 보니
십 년 전 내 마음도녹이 슬어서
고스란히 먼지 속에 놓이어 있네
.

 

김소옆


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

Op ’n swerwende dag

’n Vryvertaling van Kim So-Yeop se gedig: “떠도는 날에”


Op ’n dag, sonder my wete, 
het ’n dief my binne gesluip,
my hart* gesteel
en weggehardloop.

Opsoek na my verlore skat,
swerf ek rond vir tien jaar lank,
tot ek aan die punt van ’n naakte takkie die son ontmoet,
en terug draai huis toe.  

Ek breek die geroeste slot,
en tree my kamer binne: 
vir tien jaar lank het my hart lê-wag, 
geroes maar ongedeerd, in die stof. 


* Reël 2, “hart”: Die woord “마음” kan verwys na jou hart (maw, jou gevoelens) asook jou gedagtes. In die Koreaanse volksmond gebeur jou denke in jou hart, eerder as jou kop.

---

Soos dit is met goeie digkuns, blyk die gediggie aanvanklik baie eenvoudig, maar met dieper lees onthul dit gewigtige temas. Die gedig is 'n metafoor vir onkunde en verligting (“entlightenment”). In haar onkunde dink die spreker dat sy iets te kort is. Sy dink dat haar kern (“hart”) van haar geroof is. Maar na ’n ontmoeting met die Son (die oomblik van haar “enlightenment”) besef sy dat dit waarna sy gesoek het nie êrens anders te vind is nie. Sy moet terugkeer, haarself en haar verlede konfronteer, en daar sal sy die antwoord vind: dat sy nooit regtig te kort geskiet het nie. Haar verlore skat was nooit weg nie—díe het gelê en wag, binne in haar, “geroes maar ongedeerd.”


Oorspronklike gedig:

<떠도는 날에>

 

언젠가 나도 몰래

도둑이 들어

내 마음 모두들 훔치어

달아나 버렸네.

 

잃어버린 보물 찾아

헤매인 십 년

빈 가지 끝에 걸린 해를 만나곤

비위 둔 집으로 되돌아왔네.

 

녹슨 자물쇠를 부수고

내 방에 들어와 보니

십 년 전 내 마음도녹이 슬어서

고스란히 먼지 속에 놓이어 있네.

 

김소옆



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

17.2.21

Oor verborge dinge

Luister hoe die wind haar geheimenisse fluister
in die denne se bolle en tussen wilgers se takke
tussendeur die skrefie-oop venster, onderdeur
die agterdeur en in die plaashuisdak se balke.

Die son het per ongeluk nes ’n goudblad perkament
op die houtvloer geval, waarin in al haar verborge
dinge opgeskrywe staan—sy lê beskaamd en verweerbaar
vir almal om te sien. Maar niemand gewaar haar nie.

Óók in die reën se neurie is daar waarheid te verneem
en juistheid te ontsyfer vir die met ’n oor wat kan kyk
en ’n oog wat kan luister; elke vers en profesie,
soos met slot en grendel, het ’n openbaring en verklaring.

In die aarde, in die grond, tussen riwwe, kors en klont
lê versteekte dieper dinge uit die voortyd weggebêre
wat ook vir ons tyd iets te sê het, as jou vingerpunte
weet, en óók jou hart en óók jou gees, hóé om dit te lees.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

1.10.20

val ons deur mekaar

my siel suis soos ’n komeet
deur sterrestelsels val ek
deur jou soos ’n ster verskiet
deur jou val ek jou verby
soos ’n satelliet mis ek jou
deur my verdriet deur senuwee
en -stelsel val jy deur my sinapse
deur my vingers soos sand
deur my lewe deur jou hande
soos die see vol trane
val jy my wese uitgespoeg
soos woorde: klippe val
om te stenig, só val ek,
so gooi ek die eerste een
en val uit my hart uit
deur jou val ek
tot ek leeg uitgegooi
en vervalle is val ek
deur jou en jy deur my
deurmekaar val ons
deur mekaar

2007


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

11.9.20

Laaste krismis

Oepsie! Net ’n glipsie!
Pandora sê dit wassie asprissie:
dié pandemie, dié korrupsie
'n mistasting, ’n mistrappie—

Oepsie! Net ’n blapsie!
Loki sweer dit was ’n foutjie:
dié ontploffings en proteste,
net vergissings, flaterissings—

Onheilspellende eklipse,
noodlottige apokalípse,
katastrofes, kataklísmes:
is 2020 ons lááste krismis?


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence