28.5.12

ek sien 'n god (maar dit was jy)

'n Vry vertaling uit die slottoneel van “Philaster” (reëls 189-202) deur Beaumont & Fletcher (c. 1610). Aan die woord is Bellario/Eufrasia aan die edelman Philaster



Terwyl ek in my vensterbank gesit het,
my gedagtes op die grasperk afgedruk,
dog ek ek sien 'n god (maar dit was jy)
wat ons poorte binnekom:


My bloed vlieg weg—vlieg terug,
asof ek dit uitgeblaas en terug gesuig het
soos asem; haastig is ek geroep 
tot vermakingsberoep vir jou. 


Nooit is 'n man vanaf 'n skaaphok tot 'n septer,
so hoog in denke opgehef as ek nie.


Jy laat 'n soen 
op hierdie lippe
(wat ek verewig jou wou weerhou het)
en ek hoor jou praat,
ver bo sang.


Eers toe jy weg is
ontmoet ek my hart, en ondersoek
wat dit só maak klop: 


Gewis, ek het gevind,
dis liefde!




... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

27.5.12


ek het hard probeer om my hart te keer
om jou se reuk te ruik
maar ek het gevaal om my doel te haal
om my hart se neus te fnuik


ek het lank gestoei om my hart te boei
om hom gehok te hou
maar hy't los gekom, uit gekom
en is nou klop-aan-klop deel van jou



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

25.5.12

Dors


kyk hoe horingdor is dit, hoe brosdroog,
sien hoe dit skilfer, hoe staan die stof
met elke tromslag, krummel dit met aantas,
hoe poeier die roes, hoor hoe kraak die skaniere,
verwelk tot stok, verkrimp tot klont,
verneder tot kurk en grond


o hoe dors my hart na die lafenis
wat jou liefde is!







... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

22.5.12

op daardie dag

?op daardie dag wat kom:
wanneer ek my laaste gaap en sug sal gee,
en die lewensborrel wat reeds sedert geboorte
sy rit diep in my siel se oseaan begin het,
díe dag deur die oppervlakte breuk
en met 'n sagte prik die laaste onsie animasie
soos 'n baba-nies die niet in priem;
gaan jy daarwees om my brosbroodlippe
een laaste maal te groet, my gelynde koue voorkop
en yl graswit hare een laaste maal
met jou welbekende, welgeliefde hande
plat te vee, my ewigkykende oë
toe te vee, en my stokkerige hande
vas te hou totdat die lou koud is,
gaan jy daar wees;
:op daardie dag wat kom?


 ... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

12.5.12

Vlinders

die son val in vlinders
deur die venster
pragtige, lastige
vlinders wat op my wimpers
land—maar, liefling, ek weier
om op te staan—laat hulle kom,
hordes en hordes lappers
kan maar kom:
vandag is ek jou vlinder
en jy my blom




... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

5.5.12

Wintersbode

vannag, sag soos die dood, het sy op ons toegesak.
nie met wraak nie [wraak is so harde woord].
haar dons spooklig en lykklam weggesak ons hole in,
maar met [durf ek dit sê?] teerheid. asof sy treur
oor die verwoesting wat sy bring – steeds sag gebêre 
onder haar moederlike ouvrouvlerke. 


dis tussen die geluide, 
        daardie normale geluide
van mense en krieke en karre en honde,
dat jy haar neurie hoor – doodstil soos ’n soen,
weggesak ons holtes in. asof sy jammer is
oor die verwoesting wat sy bring – versigtig
toegevou. 
vannag.




... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

4.5.12

bekyk die losvoet, stywerug, grootkop peuter:
só, met sulke losbandige tree, tree 'n mens 
mos die lewe met vooroor momentum binne


soos 'n duiker wat oorgee aan swaartekrag
soos 'n jagse tiener wat oorgee aan wellus
soos 'n afgeleefde gryshaard wat oorgee aan die dood


só, dis hoe 'n mens moet leef met die oorgawe
wat die lewe verdien, sonder om weg te skrum 
vir die onvermeidelike skrotumpyn daarin—




... Sanko Lewis
Creative Commons Licence




Image Source

30.4.12

'n Digter se hart

Ek is onlangs weer herinner dat ek 'n digter is
en dat my digtershart, soos elke digter se hart, 'n slet is.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

22.4.12

Onder 'n donkermaan

Vanaand gaan ek my velwissel
onder 'n donkermaan—

           'n hemafroditiese ek gaan dan,
           voor die dagbreek oopbreek,
           uit my kokon uit wikkel
           en die lewe se soet en sout,
           se warm en koud opvreet

—die nuwe ek
maak nie onderskeid nie.

More, wanneer hý voor my staan,
of sý voor my staan, gaan ek
nie diskrimineer nie. Aan welke tepel
my gebied word gaan ek soog.

My metamorfose laat my honger
vir elke hart, alle niere, alle spiere;
ek verorber als: manharde been
en vrousagte murg, sening en gewrig.

Vanaand, onder die donkermaan,
gaan ek my vel reptielies afskud,
my nuwe lyf uitstrek, versigtig inlyf,
en, slaggereed, my eerste prooi inwag.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

15.4.12

Blommekenner

jou
pubis
is
'n pienk
krisant

Pink Chrysanthemum by Ric Hampton


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence