Showing posts with label herinneringe. Show all posts
Showing posts with label herinneringe. Show all posts

10.6.25

Stap vir sielsiekes

Daar word—soos in ’n wasige droom—geloop,
op ’n oeroue voetslaanpad
deur ’n bos, deur ’n woud;
en tussendeur smarag en jaspis,
olivien en goud
drup die son
in slierte stroop.

[Dié beskrywing is te mooi
vir die donkerrooi van depressie.
Maar, helaas, dié wandeling
het in die somer gebeur,
nie die herfs nie.]

Daar word onthou: mistige beelde
en buikgevoelens word krits-krits met elke trap
op die wandelpad herkou: herinneringe
tot bolusse gekou en met heimwee afgesluk
en weer onderdruk vir ’n ander keer se stap
deur bos, of woud, of strandlangs
onder ’n laatmiddagson
wat soos ’n oorrypvrug
uiteindelik val, rol, kneus,
skielik skimmel en vergaan
(of onder ’n koel middernagmaan
wat weet hoe om te terapeut
wanneer die hart nie woorde het nie).


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

8.11.17

Herinneringe

dít, gistertyd se donker dinge,
omvorm kort voor dagbreek
in ’n kenotaaf waarbinne
ons herinneringe soos bleek
skandes weggebêre lê

herfsblaarbruin passertjies sit kletsend
op die bloedbruin prikkeldraad
in die agterplaas en tjir-tjir vir
die son wat nes ’n plaaskat bolrug hurk
voor sy skielik kurk-uit-bottel sterverskiet

’n boog bo-oor als wat rou en blou is

in grafte weggebêre lê
ons herinneringe van gisteraand
se donker dinge waarvan die mossies
en die katte en die nuuskieriges
niks weet nie

maar eendag is eendag
sal ’n grafrower
díe donker dinge
weer optower


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence