Showing posts with label noodlot. Show all posts
Showing posts with label noodlot. Show all posts

29.9.24

Laat my hier alleen

“Laat my hier alleen”
(’n Vryvertaling van Francesca Caccini se aria ‘Lasciatemi Qui Solo’ uit die 17de eeu.)
Laat my hier alleen:
keer terug, voëls, na jul neste
terwyl my siel en my verdriet
helaas op hierdie kus uitadem.
Ek wil niemand by my hê nie,
behalwe ’n koue klip
en my noodlottige smart.
Laat my sterf.
Soetste sirenes,
wat met jammerhartige lied
my pyn versag—
swem elders heen!
Roep die golwe weg
met hulle wrede veragtings en gramskap.
Laat my sterf.
Kalmste winde,
keer terug na jul grotte.
Ek vra slegs my harde klaagliedere
om by my te talm:
ek roep nie vir julle sugte nie.
Alleen verlang ek
dat my sielepyn eindig.
Laat my sterf.

... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

18.9.19

soos waterverf

Jou vat aan my
kol my buitelyne
soos waterverf asof ek oplos
met die streel van jou vingers
oor my keel asof elke plek
waar jy proe en lek
vloei, gloei, verdamp—

skadu’s voor ’n lamp
fluisterwoorde
in die wind

soos onskuld
noodlottiglik verslind.

Hoeveel van my gaan oorbly
ná al jou kastyery?




... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

31.10.14

Seisoenale verdenking / Seasonal Suspicion

Seisoenale verdenking

Hy weet dit is herfs
want die ginkgo biloba
sidder geel—soos verdriet;

en hy weet dit is herfs
want die esdoornboom
skud bloed van haar hande af.

Dit is herfs, en hy weet dit,
want sy binnegoed is bruinblare
en hy staar voëlverskrik na sy verlede.

Dit is herfs. Ongetwyfeld is dit herfs.
Want alles sterf tog so verskriklik mooi
nes die noodlotige son in brons en in rooi.


Seasonal Suspicion

He knows it is fall
for the ginko biloba
trembles yellow—like grief;

and he knows it is fall
for the maple shakes blood
from her limbs.

It is fall, and he knows it,
for his insides are brown leafs
and he stares like a scarecrow at his past.

It is fall. Undeniably fall.
Because everything dies so awfully beautiful
like the fated sun in scarlet and in bronze.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

12.12.13

allermins / after all

allermins

dit is, allermins, hoe die lewe is.
mense sterf. daagliks. alleen of in groepe.
maar vir ons sterflikes
is daar geen aardskuddings,
is daar geen sonsverduisterings nie.
die blou tol draai voort.
die geel gloeilamp skyn aan.
sonder wankeling.
sonder flikkering.
sonder simpatie.
sonder nabetragting oor die sterflikheid
van die kortstondige sterflikes.
want dit is, allermins, hoe dit is.
om te lewe is om te sterwe.
nie Vader Son nóg Moeder Aarde
gee 'n dêm om nie.

maar vir wat dit werd is, my geliefde,
ek gaan jou mis.



after all
this is, after all, how life is.
people die. daily. alone or in groups.
but for us mortals
there are no earthquakes,
there are no eclipses.
the blue top continues to spin.
the yellow lamp continues to shine.
without wobbling.
without flickering.
without sympathy.
without musing over the mortality
of us momentary mortals.
because this is, after all, how it is.
to live is to die.
neither Father Sun nor Mother Earth
gives a damn.
but for what it is worth, my beloved,
i will miss you.  


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

28.12.12

Onthou U Here?

Onthou U Here, daardie aand toe ek kom smeek het?
Dit moes 'n wintersaand gewees het,
want die benoudheid van my klaaglied
het soos 'n natgereënde jas koud om my geklou.

Onthou U Here, hoe ek onbaatsugtig, soos Christus u Seun,
nie om my eie welstand gepleit het nie?
maar vir die van mý seun—totdat my hart bloed gesweet het
en ek die voete van die olyfbome met my trane gevoed het.

Onthou U Here, hoe ek my vertroue soos 'n diertjie
in die linne van geloof na u altaar gebring het?
Hoe ek gesnik het, Here, “spaar tog my kind van díe verdriet,
want U is God en U is Goed, laat u goeie wil geskiet!”

Is dit Here, omdat ons nie u Seun gespaar het nie
dat ons seuns ook nie die noodlot vry spring nie?
Here, is U toe al die tyd moedswillig soos 'n kind,
daarom dat U my kind deur wolwe laat verslind?

Onthou U Here, daardie aand toe ek kom smeek het?
Was my pleidooie dan gekaap óf misplaas óf verskeer?
Hoe anders moet ek dan u stilswye interpreteer?
Is dit Here, omdat ons nie u Seun gespaar het nie?


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

16.4.11

Aan 'n vreemdeling

'n Vryvertaling van "To a Stranger" deur Walt Whitman.

Verbygaande vreemdeling! Jy weet nie
met watse verlange ek na jou kyk nie:
Jy moet hý wees, of sý wees,
waarna ek in my drome soek.

Ek het sekerlik êrens
'n lewe vol geluk met jou gelewe:
Elke herinnering hernu in ons verby vlie—
vloeiend, vlyend, vlekloos, volwasse.

Jy het saam met my groot geword;
was 'n seun saam my of 'n dogter saam my:
Ek het saam met jou geëet, geslaap; jou liggaam
nie slegs joune nie en my liggaam nie slegs myne nie.

In ons verbygaan gee jy my die plesier
van jou oë, jou gesig, jou vlees:
In ruil neem jy my baard,
my bors, my hande.

Ek's nie veronderstel om met jou te praat nie;
mag alleenlik aan jou dink:
Wanneer ek alleen sit of snags alleen wakker word,
sal ek wag—ek twyfel nie in ons herontmoeting nie.

Ek sal daartoe sien—jou nie weer verloor nie.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence



Walt Whitman - To A Stranger by poetictouch

4.4.11

Ek's nie bygelowig nie

Ek’s nie bygelowig nie, maar jou palmlyne
lyk nes myne. In my oë swem jou sterreteken.
Jy’s tuis in my waterteken se dale en kruine.

My hart gooi dolosse. My bloed sloof
soos rooiafrikanerosse deur die stof.
My ossewa is oppad na jou plaas toe.

Moenie bekommer oor die klaar-koffie nie.
Ek bring vir ons groentee saam.
Agterna kan ons mekaar se teekoppies lees.

Sulke sondige praktyke hoort nie
in ons poorte nie, maar selfs die duiwel weet,
dat ons is bedoel om een vlees te wees.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence