Showing posts with label jagter. Show all posts
Showing posts with label jagter. Show all posts

2.2.15

Erfsonde

Sy stap in purper
(wat `n pretensieuse woord: “purper”
wat met niks relevant wil rym nie—
usurper? opsweper?)
met die korridor tussen die Gautrein
en Oliver Thambo af; die oosterse rok
klou kalander-koggelmander aan haar.

Al my mansjagse sintuie skerp skielik op
met haar verbystap en deur die venster
spring my verbeelding luiperd en ruik
my snoet jasmyn en sweet en proe my bek
kaneel en bloed.

Vir `n oomblik         kortstondig en fragiel
soos die stuiptrek van `n vinger aan `n sneller,
soos die ontspan van vingers om `n boogsnaar,
soos die sug ná semen- en bloedvergieting
beken ek haar as buit,
herken ek deur die ruit ‘ek’:

Nimrod—

die oertipe jagter, verkragter, land- en vrouerower;
die seun van Gam, die seun van Noag,
die seun van Adam—die Usurper,
aangenome seun van die Opsweper.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

29.4.14

Die jagter kom tuis

Liefie! Liefie! ek is tuis!
Liefie kyk, ek's by die huis.
Ek het vir 'n bok gejag:
heeldag by die pan gewag.

Stook die vuur, ek slag solank;
vannag fees ons vir ure lank:
en vryf ons lywe blink met vet,
ten eindelaas ons heelnag pret!


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

15.7.13

Aan almal wat die ratte geölie hou / To All Who Keep the Gears Greased

Aan almal wat die ratte geölie hou

Ek het die jagters lief,
die gaarders, die slagters, die verbouers,
die bakkers, die grouers, die bouers,
die wewers, die kinderoppassers, die voeders,
die opvoeders, die versorgers, het ek lief.
Almal wat die ratte geölie hou.
Wat hulle hande vuil kry,
wat sweet, wie se voete brand
na 'n lang dag van swoeg,
wie se rûe pyn soos Atlas s'n.
Kom, kom sit en laat ek jou voete was;
kom, kom dat ek jou skouers vryf,
die sweet van jou voorkop met my mou af vee;
kom, dat ek jou growwe hande in myne hou,
jou op die lippe soen soos 'n kammeraad.
Kom, kom sit hier, kom rus,
kom luister hoe ek jou besing—
ek het jou lief.


To All Who Keep the Gears Greased
I love the hunters,
the gatherers, the butchers, the farmers,
the bakers, the diggers, the builders,
the weavers, the child-rearers, the feeders,
the educators, the caretakers—I love them all:
All who keep the gears greased.
All who get their hands dirty,
who sweat, whose feet burn
after a long day of toil,
whose backs ache like that of Atlas. 
Come, come sit and let me wash your feet;
come, come let me rub your shoulders,
wipe the sweat from your brow with my sleeve,
let me kiss you on the lips like a comrade.
Come, come sit here, come rest,
come listen how I serenade you—
I love you. 


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence