Showing posts with label wraak. Show all posts
Showing posts with label wraak. Show all posts

19.8.14

Belemmer / Blundered

Belemmer

'Jy het die liefde-van-jou-lewe verloor,'
sê jy asof ek dit nie weet nie—
my hartklop is
          uit gelid;
my toekomsdrome is ou verbruinde kiekies
tot as verbrand; my hoop wat eens
na lemoenbloeisels geruik het, het gegis
en asyn geword; my holtes wat op 'n tyd
reservoirs vir liefde was, is nou stowwerige
pakkamers van ru verlange en kru verlies.

Wat jy nie begryp nie:
lankal reeds het jy my verloor
—'n lyn van 'n gedig of melodie
as mens aan die slaapraak en dan verdamp,
soos 'n skaduwee wat skrik vir 'n bedlamp,
soos kiekies in 'n vuur, soos hoop wat te lank
in holtes en hole vergete laat lê is;
soos 'n ridder wat 'n soen belowe is,
maar ongekus is—jy het ons reeds
daardie eerste keer belemmer,
toe jy my hart verruil het,
en op 'n ander hart
se klop gewed het.

Nee, ek wil nie met jou trou nie.
Jy is nie meer my trouvrou nie.


Blundered

'You have lost the love-of-your-life,'
you say, as if I don't know it—
my heartbeat is
         out of step;
my future dreams are old browned photos
burned to ash; my hopes that once
smelled of orange blossoms had fermented
and turned vinegar; my hollows that were once
reservoirs for love have become dusty
storerooms of raw longings and rude losses.

What you do not comprehend:
you have lost me already long ago—
a line of a poem or melody
when one falls asleep and then evaporates,
like a shadow frightened of a bedside lamp,
like photos in a fire, like hope left lying
forgotten in hollows and trash heaps;
like a knight that was promised a kiss,
but with lips untouched—you blundered us
already that first time,
when you exchanged my heart,
and bet on the heartbeat
of another.

No, I do not want to marry you.
You are no longer the one for me.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

29.7.13

vir alles is daar 'n prys

daar is maniere om wraak te neem
daar is metodes om die son se verkoolde hart
seer te maak, om hom terug te kry
vir al die kere wat hy onsimpatiek opgekom het
vir al die kere wat hy sonder meegevoel geskyn het
toe jou eie hart gebrand het van verdriet
en hy jou geheime pyne aan die dag gelê het
sonder empatie ontbloot en gekollig het
daar is werkswyses, daar is strategieë,
om selfs die magtige son te laat les op sê
is daar toorwoorde en donkerpraktyke
sodat hy op daardie dag, wanneer hy sy laaste
sametrekking kry, sy laaste lou walm afskud,
aan jou sal dink, en spyt sal wees
dat hy nie saam gehuil het nie
daar is maniere om jou op die son te wreek
om jou hart op sy laaste oomblik oop te breek
om sy sputterende spastiese lont
met jou eie vingers dood te vryf
is daar maniere om dinge gedoen te kry:
jy moet net die regte gode ken
vir alles is daar 'n prys



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

28.12.12

Onthou U Here?

Onthou U Here, daardie aand toe ek kom smeek het?
Dit moes 'n wintersaand gewees het,
want die benoudheid van my klaaglied
het soos 'n natgereënde jas koud om my geklou.

Onthou U Here, hoe ek onbaatsugtig, soos Christus u Seun,
nie om my eie welstand gepleit het nie?
maar vir die van mý seun—totdat my hart bloed gesweet het
en ek die voete van die olyfbome met my trane gevoed het.

Onthou U Here, hoe ek my vertroue soos 'n diertjie
in die linne van geloof na u altaar gebring het?
Hoe ek gesnik het, Here, “spaar tog my kind van díe verdriet,
want U is God en U is Goed, laat u goeie wil geskiet!”

Is dit Here, omdat ons nie u Seun gespaar het nie
dat ons seuns ook nie die noodlot vry spring nie?
Here, is U toe al die tyd moedswillig soos 'n kind,
daarom dat U my kind deur wolwe laat verslind?

Onthou U Here, daardie aand toe ek kom smeek het?
Was my pleidooie dan gekaap óf misplaas óf verskeer?
Hoe anders moet ek dan u stilswye interpreteer?
Is dit Here, omdat ons nie u Seun gespaar het nie?


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

5.10.12

Tronkvoël se wraak

Met verwysings na William Blake se "How sweet I roam'd from field to field" en Maya Angelou se "I Know Why the Caged Bird Sings".



jy verf jou mure hemelblou
en vang my met 'n net
jy tronk my in 'n voël se kou
en hang my bo jou bed

deur die tralies steek jy stokkies
jy skeer met my die gek
hoeveel ander is in hokkies
versteek in jou woonplek?

jy voer my kamma-liefdetjies
winkoog en blaas soene
'n man soek meer as krummeltjies
leegdop visioene

'n gehokte voël kan óók fluit
'n klaaglied is óók mooi
'n tronkvoël sing oor vryheid
en oor predator en prooi

eendag is eendag en ek is vry
ek weet tog waar jy bly
ek gaan jou aan die keel beet kry
jou koue hart uit sny



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence