Showing posts with label musiek. Show all posts
Showing posts with label musiek. Show all posts

21.3.20

Die konsertmeester

kook en bleik
en droog en kerf
my beendere

ryg gare:
     herwin kneukel en gewrig
     tot gru windklingels

boor gate:
     suig my murg uit en fluit
     dooie deuntjies my femur in

span snare:
     pluk makabere melodië
     met my verharpde rugstring

monteer:
     die trofee—my skedel
     wat met bleek gebit in stilte skree


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

29.10.16

Groen gras en rooi grond

My slapende geliefde
se koue beendere
is ’n kaggel waarby
nostalgiese gedagtes
soos winterskinders
kaalvoet sit
en probeer
vingers&tone
warm maak.

Eendag sal ek nog
my verdorde geliefde
se tuin besoek,
’n bos blou tulpe bring,
en daar op die gras
kaalvoet sit,
met pen&pampier,
en met kitaar,
dat daai mooi
komposisie
wat ons lank, lank
gelede begin het,
klaar kan kom
om só ons liefde
op te som.

Wanneer ek klaar is,
met ’n son en maan
wat treur en taan,
sal ek pens&pooitjies lê
en die deuntjie neurie
die groen gras
en rooi grond in,
sodat haar koue klei
kan resoneer,
kan vibreer,
en dalk, miskien
weer vlam kan vat
en dalk, miskien
ons nog ’n keer
soos toentertyd
saam kan sing
en kan jolyt!


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

1.3.15

Strek

Soos 'n vel wil ek uitstrek, soos 'n veld ooprol
en die son soos liefde indrink—my hart oopvlek
nes palms na gebed om die seën te vang.

Ek wil my self strek, die senuwees rek,
die morele sinapse soos 'n lier
sakrosant stem en plegtig stram.

My talente wil ek strek van horison tot aardsrand,
my verbeelding soos die konstelasies
in ses pare in span, 'n koets op die melkweg.

Laat ek myself strek: my vrese raakvat
en inperk, met geoefende soepel spiere
en 'n vasberade kyk vasvat en uitwerp

die duisternis in. Ek vrees nie die donker nie.
My siel lê uitgestrek en spin tussen die sterre
soos 'n swart kat wat diep die donker in kan sien.

Mag ek myself oopstrek soos 'n gekruisigde
wat in innige pyn empatiek almal wat gepynig
is omhels met wyd gestrekte oop omarmde arms.

God, strek my soos 'n gordel en omgord my
soos 'n profeet en maak my kinderlik nuttig
vir die liefdestaak van menswees.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

17.8.12

Volksvreemde deuntjies


My uitheemse lover
maak my teruglê
vir 'n interkulturele ervaring:

my eksotiese lover
speel volksvreemde deuntjies
op my doedelsak

tot ek in ekstase
in buitelandse tale
bravo! Bravo! BRAVO! roep.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

17.9.11

My hart en ek – 'n Jazz-komposisie vir stem, klavier, saxofoon en perkussie

Komposisie 1:

My hart en ek
          het oor die saak besluit:
genoeg's genoeg,
          ons kys is uit.

Watter ander hart,
          watter ander ek,
ken soveel smart
          soos my hart en ek?


Komposisie 2:

My hart en ek
het oor die saak besluit—

Watter ander hart,
watter ander ek,
ken soveel smart
soos my hart en ek?

—genoeg's genoeg,
ons kys is uit.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

10.6.11

Back Stage Pass to a Heart

As ek 'n agterverhoogtoegangskaartjie vir 'n omstrede Willie Nelson-vertoning het, sal ek vir jou daar tussen al die ander volksvreemde inboorlinge gaan soek soos 'n hond sy baas by 'n kerkbazaar. Wanneer ek jou gevind het, gaan ek maak of ek jou nie ken nie en eers met al die ander mooi meisies, in hulle frilletjie-baaikostuumtops en stywe denims wat hulle vir hierdie aandgeleentheid aangetrek het, flankeer. Eventueel, deur die loop van die aand gaan ons langs mekaar beland. Ek gaan kommentaar lewer op jou interesante skoene en hoe dit jou slanke enkels komplimenteer. Ons gaan reeds oor verskeie onderwerpe gesels het voordat ek myself aan jou voorstel, en jy aan my. “Dis 'n mooi naam,” sal ek sê, jou in die oë kyk en glimlag. Ons gaan giggel wanneer ons uitvind dat ons alby nie gaande is op Country-musiek nie, maar dat ons paradoksaal gaande is oor Willie Nelson. Die slegte ding is, Willie Nelson is nie meer jonk nie. Ja, hy's jonger as die ander Nelson waaroor almal gaande is, maar ons weet hoe vinning Madiba oud geword het. So ek hoop dat ek 'n agterverhoogtoegangskaartjie vir 'n omstrede Willie Nelson-vertoning kry voor sy twee gevlegde ponies op 'n elektroniese afslaer verkoop word ten bate van 'n welsynsorganisasie. Tyd hardloop uit en agterverhoogtoegangskaartjies, veral na iemand se hart, is moeilik bekombaar. Sien jou daar.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence