Showing posts with label sterflikheid. Show all posts
Showing posts with label sterflikheid. Show all posts

29.9.24

Laat my hier alleen

“Laat my hier alleen”
(’n Vryvertaling van Francesca Caccini se aria ‘Lasciatemi Qui Solo’ uit die 17de eeu.)
Laat my hier alleen:
keer terug, voëls, na jul neste
terwyl my siel en my verdriet
helaas op hierdie kus uitadem.
Ek wil niemand by my hê nie,
behalwe ’n koue klip
en my noodlottige smart.
Laat my sterf.
Soetste sirenes,
wat met jammerhartige lied
my pyn versag—
swem elders heen!
Roep die golwe weg
met hulle wrede veragtings en gramskap.
Laat my sterf.
Kalmste winde,
keer terug na jul grotte.
Ek vra slegs my harde klaagliedere
om by my te talm:
ek roep nie vir julle sugte nie.
Alleen verlang ek
dat my sielepyn eindig.
Laat my sterf.

... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

7.10.19

Kleikind

’n Vriend (nou dood)
het my op ’n keer oor die foon vertel
van ’n profeet (óók reeds dood)
wat in visioen gesien het,
hoe Adam (voortyd terug al dood)
morsdood omgeslaan het,

toe hy vir die eerste keer
Moeder Aarde se bloedrooi grond
gewaar het (dié roes Oervagina
waaruit hy gebore was),

want, soos ons álmal wéét,
was dit in die oertyd
’n ergelike verskrikking
van ’n ding vir ’n kind
om sy ma, óf sy pa,
se skaamte te sien,

en hoedat die Vader
sy kleikind uit die dood
moes opwek—deur
’n tweede keer
die lewelose lyf
met lewenswind
deur die neusgate in
in te blaas.

Maar dit het hom nie,
sê my vriend (wat dood is)
die Tweede Adam gemaak nie;
hy was steeds die eerste een,
al het hy twee keer gelewe
en gesterwe: stof-tot-stof.

’n Mansmens is tog
so ’n brose ding,
jy weet.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

12.12.13

allermins / after all

allermins

dit is, allermins, hoe die lewe is.
mense sterf. daagliks. alleen of in groepe.
maar vir ons sterflikes
is daar geen aardskuddings,
is daar geen sonsverduisterings nie.
die blou tol draai voort.
die geel gloeilamp skyn aan.
sonder wankeling.
sonder flikkering.
sonder simpatie.
sonder nabetragting oor die sterflikheid
van die kortstondige sterflikes.
want dit is, allermins, hoe dit is.
om te lewe is om te sterwe.
nie Vader Son nóg Moeder Aarde
gee 'n dêm om nie.

maar vir wat dit werd is, my geliefde,
ek gaan jou mis.



after all
this is, after all, how life is.
people die. daily. alone or in groups.
but for us mortals
there are no earthquakes,
there are no eclipses.
the blue top continues to spin.
the yellow lamp continues to shine.
without wobbling.
without flickering.
without sympathy.
without musing over the mortality
of us momentary mortals.
because this is, after all, how it is.
to live is to die.
neither Father Sun nor Mother Earth
gives a damn.
but for what it is worth, my beloved,
i will miss you.  


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence