Showing posts with label eggenoot. Show all posts
Showing posts with label eggenoot. Show all posts

13.9.13

ons loop trots

Hierdie voetslaanpad is nie geplafei nie,
die duike is nie opgevul en die hewels nie plat gefyl nie:
inderdaad, dié pad is nie vir 'n koning voorberei nie,
dis 'n wandelpad: vir diere en gepeupel,
vir gewone hardwerkende gewemel, soos ons—

maar my liefling, fok die koninklikes: ons loop die pad
met ons eie voete—ons trap ons lewens oop, tree vir fokken
tree, self: as ek val help jy my op, as jy moeg is abba ek jou
en af en toe rus ons teen 'n skurwe krans en skep
ons asems met bakhande uit 'n spruit tot lafenis—

ons loop die pad begrafnis toe self: elke oopgebarsde blaas,
elke rou gevalde knie, elke litteken, elke blek, elke traan
is 'n merk dat ons geleef het—dra jou medaljes soos 'n veteraan:
trots en voorbarig! want, my vriend, dit is welverdiend.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

22.6.12

Modderkoekies

2006

Eendag wanneer ons oud is
moet ons modderkoekies bak.
Ons skibberige hande sal weer
glibberig wees soos platannas.
Ons gekerfde gesigte sal weer
blos soos kleigeverfde inboorlinge.
Ons grasgryskoppe sal weereens
vrugbare aardes wees,
kleurig vol van kattekwaad
– nee – gemmerkattekalmte.

En as die agterdagson ons speletjies speen
sal ons nie ween nie, maar laaste lag –
’n Oumens is net eenmaal kind,
dóg was dit ons tweekeer goedgesind.




... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

22.5.12

op daardie dag

?op daardie dag wat kom:
wanneer ek my laaste gaap en sug sal gee,
en die lewensborrel wat reeds sedert geboorte
sy rit diep in my siel se oseaan begin het,
díe dag deur die oppervlakte breuk
en met 'n sagte prik die laaste onsie animasie
soos 'n baba-nies die niet in priem;
gaan jy daarwees om my brosbroodlippe
een laaste maal te groet, my gelynde koue voorkop
en yl graswit hare een laaste maal
met jou welbekende, welgeliefde hande
plat te vee, my ewigkykende oë
toe te vee, en my stokkerige hande
vas te hou totdat die lou koud is,
gaan jy daar wees
:op daardie dag wat kom?


 ... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

11.5.11

Mities

Jy my Nimf, ek jou Pan, baljaar ons
kaalgat tussen boom en bas en bos;
ons speletjies ken mos g'n toom nie.
Ons is bosbefokte verliefdes.
Ek jou bok, jy my ooi, bokbespring
ons mekaar mitologies kras
en mities mooi.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

28.4.11

Boervrou

my vrou is 'n boervrou
my boervrou spit in die tuin
sy spit die aarde in klowe oop
groot vrugbare oopwondklowe
met haar groot ysterspit

soos Agdistis is my vrou
my boervrou bevrug Moeder Aarde
kloof haar oop en stort haar saad daarin
my vrou is 'n vrugbaarheidsgodin


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

9.4.11

Openbaring

Toe nag aan dag geboorte gee,
jy gefetus teen my ribbekas ingelas,
jou asem met myne in gety
(die produk van vele seer- en lekkerkry),
tref dit my:
hoedat een man een vrou
een toekoms saam kan bou
om een ewigheid in te hou.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

7.4.11

Drie kwatryne

Vryvertaal vanaf ’n Koreaanse gedig deur Woo-Shik Kang.

Die geur van die lotusvrou in my drome
en die geur van my vrou is soms eenders.
Maar ek weet nie watter is meer waar nie –
die liefde wat ek gee of die liefde wat ek neem (as ek slaap of wakker is) nie.

My vriend, asof om te lê in ’n nat gehuilde kis,
op treurige vroulose dae,
ons na die see laat gaan om iets te word –
seegras in die blou golwe.

Hoveel mense sal weet
hoe om die huweliksbed in die ander wêreld op te maak?
Al my drome in vorige lewens was om ’n vrou te ontmoet
vir wie ek selfs my grootste sielsmart kon gee.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence