Showing posts with label geluk. Show all posts
Showing posts with label geluk. Show all posts

22.6.12

Modderkoekies

2006

Eendag wanneer ons oud is
moet ons modderkoekies bak.
Ons skibberige hande sal weer
glibberig wees soos platannas.
Ons gekerfde gesigte sal weer
blos soos kleigeverfde inboorlinge.
Ons grasgryskoppe sal weereens
vrugbare aardes wees,
kleurig vol van kattekwaad
– nee – gemmerkattekalmte.

En as die agterdagson ons speletjies speen
sal ons nie ween nie, maar laaste lag –
’n Oumens is net eenmaal kind,
dóg was dit ons tweekeer goedgesind.




... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

17.12.11

Raad 1

My kind,
jy ruik vars:

vars soos ’n pasgebore brood
soos ’n perskeboom waarop die sterre
laasnag neergedaal en watte geword het
soos bokspring kalwerliefde na die reën
wanneer haasbekkies om die kys vra

terwyl jy nog vars is
gryp hom vas, my kind,
hou die lewe grootvas met jou klein hande
staan wyd en grou jou stomptoontjies
soos bergbokkloutjies teen die krans

wurg hom, my kind,
wurg hom vir alles wat hy het

suig sy murg leeg
tot jy blink om die bek:

spekvet en gelukkig!


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence