Showing posts with label Adam. Show all posts
Showing posts with label Adam. Show all posts

7.10.19

Kleikind

’n Vriend (nou dood)
het my op ’n keer oor die foon vertel
van ’n profeet (óók reeds dood)
wat in visioen gesien het,
hoe Adam (voortyd terug al dood)
morsdood omgeslaan het,

toe hy vir die eerste keer
Moeder Aarde se bloedrooi grond
gewaar het (dié roes Oervagina
waaruit hy gebore was),

want, soos ons álmal wéét,
was dit in die oertyd
’n ergelike verskrikking
van ’n ding vir ’n kind
om sy ma, óf sy pa,
se skaamte te sien,

en hoedat die Vader
sy kleikind uit die dood
moes opwek—deur
’n tweede keer
die lewelose lyf
met lewenswind
deur die neusgate in
in te blaas.

Maar dit het hom nie,
sê my vriend (wat dood is)
die Tweede Adam gemaak nie;
hy was steeds die eerste een,
al het hy twee keer gelewe
en gesterwe: stof-tot-stof.

’n Mansmens is tog
so ’n brose ding,
jy weet.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

2.2.15

Erfsonde

Sy stap in purper
(wat `n pretensieuse woord: “purper”
wat met niks relevant wil rym nie—
usurper? opsweper?)
met die korridor tussen die Gautrein
en Oliver Thambo af; die oosterse rok
klou kalander-koggelmander aan haar.

Al my mansjagse sintuie skerp skielik op
met haar verbystap en deur die venster
spring my verbeelding luiperd en ruik
my snoet jasmyn en sweet en proe my bek
kaneel en bloed.

Vir `n oomblik         kortstondig en fragiel
soos die stuiptrek van `n vinger aan `n sneller,
soos die ontspan van vingers om `n boogsnaar,
soos die sug ná semen- en bloedvergieting
beken ek haar as buit,
herken ek deur die ruit ‘ek’:

Nimrod—

die oertipe jagter, verkragter, land- en vrouerower;
die seun van Gam, die seun van Noag,
die seun van Adam—die Usurper,
aangenome seun van die Opsweper.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

24.9.13

’n sms in perspektief

die heelal ʼn balkon
die buitelig ʼn son
die motte is planete
die muggies is komete

daai geitjie ʼn gravitasiekolk
en jou sms: ʼn dolk
met gelaktiese gevolge:
aan kosmiese wonde
bloei my siel leeg

ek is geweeg: te lig gevind?
hoe is jy van die liefde ontblind?

ligjare ver sterf ek—
sedert die Grootknal al
is ek aan die vrek,
nes die ganse grote hele heelal—

jou sms kom reeds soos die eerste sonde
en ek sterf soos Christus aan Adam se wonde



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

22.10.12

as ek kon


'n Vertaling uit Engels van my gedig "A Love Proposal"


as ek
my hart soos 'n perske kon oes
dit uit my bors kon pluk
uit die hok kon steel
die aorta af kon bind soos 'n naelstring
dit kon afwas en toedraai in linne
dit met bies kon versterk teen die koue
en dit kon neerlê in 'n mandjie
versier met 'n groot strik—groot soos 'n hand;

as ek
dit voor jou deur kon los
dit vir jou soos 'n ring aan jou vinger kon gee
óf soos die lewensasem Adam ingeblaas
óf soos lente—opgekrul in die palm van God se hand
nes 'n baba krimpvarkie;

en as jy
dit sou aanvaar, dit sou inasem,
dit sou inneem soos soet perskes,
medepligtige sou wees aan die gevangenisontsnapping,
as jy jou bors sou bied vir bies en liefde,
jou borskas sou deel met 'n ekstra hart—om passievol
jou bloed te pomp;

as ek kon,
en as jy sou,
behoort my hart aan jou.




... Sanko Lewis
Creative Commons Licence