Showing posts with label seisoene. Show all posts
Showing posts with label seisoene. Show all posts

18.4.17

Kom kuier vir my in Seoul

dit is belangrik om te weet:
dat Seoul het twee
lettergrepe
maar een diftong
hier is longe klam
van gifgeel stof
en van bedrog
maar nie geweld nie
dat die somers sweet soos
net die oorbevolkte Ooste
vol voorvadergeeste kan
dat mooi lengtes bloos
bloeisels kapok
asof dit nie in die wintermaande
genoeg gesneeu het nie
(jy kan dus dan in Mei
vir my kom kuier)
maar daarom is dit belangrik
om met sekerheid te weet
dat herfs is selfs nog mooier
soos ’n slagveld
wat ’n stad geword het
en ’n gawer tyd
vir vlugtelinge
en herinneringe
soos jy


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

21.10.16

Seisoensverandering

die bome protesteer in rooi
lig hulle arms omhoog
met wapperende vlae
roep revolusie in geel krete
gooi bruin strooibiljette

maar die diktator gee nie ag nie
die koue kom nader dag na dag
soos ouderdomsnostalgie
is daar geen ontsnap nie
en met een skriel nag

is die bome afgeslag
lê die velle om die voete
soos betogingsplakkate
verlate in die strate


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

31.10.14

Seisoenale verdenking / Seasonal Suspicion

Seisoenale verdenking

Hy weet dit is herfs
want die ginkgo biloba
sidder geel—soos verdriet;

en hy weet dit is herfs
want die esdoornboom
skud bloed van haar hande af.

Dit is herfs, en hy weet dit,
want sy binnegoed is bruinblare
en hy staar voëlverskrik na sy verlede.

Dit is herfs. Ongetwyfeld is dit herfs.
Want alles sterf tog so verskriklik mooi
nes die noodlotige son in brons en in rooi.


Seasonal Suspicion

He knows it is fall
for the ginko biloba
trembles yellow—like grief;

and he knows it is fall
for the maple shakes blood
from her limbs.

It is fall, and he knows it,
for his insides are brown leafs
and he stares like a scarecrow at his past.

It is fall. Undeniably fall.
Because everything dies so awfully beautiful
like the fated sun in scarlet and in bronze.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

10.9.14

Soenseisoen

Soen my net—soen my nou;
soen my op die sagteplekkie, broos en beskermend
soos 'n nuwe moeder 'n splinternuwe kind
waaraan die nattigheid nog klou;
of soen my op my voorkop soos 'n trots patriarg
wat 'n agter-agterkleinkind inhuldig; of gee my 'n heilige kus
soos 'n skepper wat lewe sy skepsel se neus binne blaas;
of plant jou tong wellustig en profaan my praatput in,
maak dat ek my woordesluk en aan jou soen verstik;
byt my nek met vampieriese dors; suig soos 'n onvergenoegde vul
aan my harige bors; lek die testosteroon aan my pektoraal,
proe my feromoon in die bedompige koelte van my armholte
en volg met jou tong die golwe van my ribbekas,
die kruise van my buik, die mik wat na my pubis lei,
my fallus en my bas; knibbel agter my knieknoppe en kuite
en tussen my tone asof jy 'n kewer is; kruwel mondeliks
oor elke plek wat deel van ek is, sodat ek gelyktydig
orgasties gril en liries gil—soen my net,
want daar is min dinge wat so seldsaamsoet
soos 'n soen is, eens die seisoen aangebreek het.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

20.9.13

Herfs in Korea

soos opvoustoele waggel geknakte tantes

onder goddelike hoë akkerbome en pluk
met lou eensame hande stowwerige akkers
– slakglad – uit die grond. geen sug of kreun
verklap die weiding nie, want die statige gode
gee; al gee hulle suinig en stadig en afsydig.

winter is oppad. sy hurk soos ’n glibberige padda
agter rusland se berge en hou met wolfteefoë
die moeë tantes dop. haar tong lê afgerol soos
’n kadawer. haar pisnatsnoet stoom. daar is oorlog
in haar wasemde asem.

maar dis die blare wat protesteer. die vurige blare
paradeer soos gouefisanthane; vlamtrosse aap
hardnekkig aan die takke en roep soos shamane
na die son met gekreukelde, geverfde gesigte.
protes tot die dood.

korea is moeg. moeër as die tantes. moeër as die akkers.
moeër as haar verkragte oewers, tot drekklei
en strontsand getrap deur japanese, sjinese, russe,
mongoliërs, jagse amerikaners, arm suid-oos asiërs
wellustig vir die tantes se rys en akkerbredies.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

10.3.13

Lentetyd


Liefling, dis lentetyd:
laat my aan jou lentebloeisels ruik,
aan jou blommeknoppies knibbel;
kom, nou is immers die geleentyd
om in pas met die seisoen te wees,
laat ons soen, versoen en gelukkig wees!




... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

27.2.13

Magnolia

Binnekort gaan die magnoliaknoppe
hulle sluiers soos Oosterse bruide oopgooi
en soos die volmaan maagdelikwit
hulself ontbloot;

—laat elke bruidegom wat 'n oog het sien;
laat elke beminde wat 'n neus het ruik;
laat elke minnaar wat 'n mond het proe—

binnekort is dit magnolia-tyd.




Soon the magnolia buds will
throw their veils to the wind like Oriental brides
and expose themselves
like the full moon, virgin white;
—every bridegroom that has an ear, let him hear;
every beloved that has a nose, let him smell;
every lover that has a mouth, let him taste—
it will be magnolia season soon.




... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

29.11.12

Winter


alles skitter
op klip en klei
teer en plavei
selfs gras is glas
die wêreld is kraakvars
die ganse heelal
is kristal



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

5.5.12

Wintersbode


vannag, sag soos die dood, het sy op ons toegesak.
nie met wraak nie [wraak is so harde woord].
haar dons spooklig en lykklam weggesak ons hole in,
maar met [durf ek dit sê?] teerheid. asof sy treur
oor die verwoesting wat sy bring – steeds sag gebêre
onder haar moederlike ouvrouvlerke.

dis tussen die geluide,
        daardie normale geluide
        van mense en krieke en karre en honde,
dat jy haar neurie hoor – doodstil soos ’n soen,
weggesak ons holtes in. asof sy jammer is
oor die verwoesting wat sy bring – versigtig
toegevou.
             vannag.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

1.12.11

Verjaarsdagwense

Díe dag,
vandag,
jou verjaarsdag
het my onverwags betrap

soos die Wederkoms.
Dit was nes in die dae van Noag –
ek het nie gedrink nie,
maar ek het geëet en gedink aan trou.

Soos die Wes-Transvaal se lente –
die takke swel pitswere
skielik (sonder serimonie) bars dit blertse:
semenwit      tepelpienk      skrotumperse

en dan,
die bloeisels
wat soet parfume poep.

En dan nog skieliker,
met ’n snik en ’n snak,
is dit somer.

Só betrap jou verjaarsdag my
en ek kry toe maar blomme
(nie tulpe nie, ek het jou al te veel daarvan gegee):
geel daisies en blou gesiggies en raffialint
en stasioneer dit in ’n fles in my kamer.

En toe bid ek maar vir almal wat vêr is
(maar nie vir jou nie, want gebede aan die dode is kettery).



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence