Showing posts with label boek. Show all posts
Showing posts with label boek. Show all posts

31.8.18

Die seun van die mens

hy staan ’n mistigheid
en drink die mis

sy seëninge tel hy hopeloos
want ons heelal se kolofon

dui ’n druktyd en verwyt
daarom asem hy die einde

soos wasem voor die son
met leë hande en hartseer oë

sy ledemate en lendene
verdamp in die verdrietigheid

nes muses in ons drome
verdwyn hy soos ’n lied

nes gode in ons wense
verskiet hy in die niet


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

22.7.12

Boek en boekmerk

Image Source

Nes 'n boek val jou dye voor my oop en ek verdiep my aan jou binnebene
se roomkleurige blaaie en die botterreuk van leer en van papier en my oë hardloop
met los heupe oor jou letters en ek blaai jou verhaal met my geletterde tong
by kerslig tot die dagbreek kom en as ek jou laaste sin ingesluk het

—my asem vir 'n ruk opgehou het—

klim ek dan 'n wilde perdeblom jou binneblaaie in en soos 'n vlerk vou jy ferm om my
en met 'n storie se geduld pars en tem jy my tot ek 'n makgemaakte boekmerk in jou bly.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence