Showing posts with label aarde. Show all posts
Showing posts with label aarde. Show all posts

17.2.21

Oor verborge dinge

Luister hoe die wind haar geheimenisse fluister
in die denne se bolle en tussen wilgers se takke
tussendeur die skrefie-oop venster, onderdeur
die agterdeur en in die plaashuisdak se balke.

Die son het per ongeluk nes ’n goudblad perkament
op die houtvloer geval, waarin in al haar verborge
dinge opgeskrywe staan—sy lê beskaamd en verweerbaar
vir almal om te sien. Maar niemand gewaar haar nie.

Óók in die reën se neurie is daar waarheid te verneem
en juistheid te ontsyfer vir die met ’n oor wat kan kyk
en ’n oog wat kan luister; elke vers en profesie,
soos met slot en grendel, het ’n openbaring en verklaring.

In die aarde, in die grond, tussen riwwe, kors en klont
lê versteekte dieper dinge uit die voortyd weggebêre
wat ook vir ons tyd iets te sê het, as jou vingerpunte
weet, en óók jou hart en óók jou gees, hóé om dit te lees.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

7.10.19

Kleikind

’n Vriend (nou dood)
het my op ’n keer oor die foon vertel
van ’n profeet (óók reeds dood)
wat in visioen gesien het,
hoe Adam (voortyd terug al dood)
morsdood omgeslaan het,

toe hy vir die eerste keer
Moeder Aarde se bloedrooi grond
gewaar het (dié roes Oervagina
waaruit hy gebore was),

want, soos ons álmal wéét,
was dit in die oertyd
’n ergelike verskrikking
van ’n ding vir ’n kind
om sy ma, óf sy pa,
se skaamte te sien,

en hoedat die Vader
sy kleikind uit die dood
moes opwek—deur
’n tweede keer
die lewelose lyf
met lewenswind
deur die neusgate in
in te blaas.

Maar dit het hom nie,
sê my vriend (wat dood is)
die Tweede Adam gemaak nie;
hy was steeds die eerste een,
al het hy twee keer gelewe
en gesterwe: stof-tot-stof.

’n Mansmens is tog
so ’n brose ding,
jy weet.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

29.10.16

Groen gras en rooi grond

My slapende geliefde
se koue beendere
is ’n kaggel waarby
nostalgiese gedagtes
soos winterskinders
kaalvoet sit
en probeer
vingers&tone
warm maak.

Eendag sal ek nog
my verdorde geliefde
se tuin besoek,
’n bos blou tulpe bring,
en daar op die gras
kaalvoet sit,
met pen&pampier,
en met kitaar,
dat daai mooi
komposisie
wat ons lank, lank
gelede begin het,
klaar kan kom
om só ons liefde
op te som.

Wanneer ek klaar is,
met ’n son en maan
wat treur en taan,
sal ek pens&pooitjies lê
en die deuntjie neurie
die groen gras
en rooi grond in,
sodat haar koue klei
kan resoneer,
kan vibreer,
en dalk, miskien
weer vlam kan vat
en dalk, miskien
ons nog ’n keer
soos toentertyd
saam kan sing
en kan jolyt!


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

2.10.15

Annunsiasie

O gedorie! o genade! o die dinge hier te sien!
O my goeiste! o my aarde! watse lot is hier bedien?!

Katastrofe, kataklisme, katakombe, katpardel!
Kan jy sulke dinge indink? Kan jy dít tog oorvertel?!

O die wêreld lê aan skerwe, o die heelal roep-en-gil!
O die sondes oorgeërwe, o die gode tjoep-en-stil.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

12.12.13

allermins / after all

allermins

dit is, allermins, hoe die lewe is.
mense sterf. daagliks. alleen of in groepe.
maar vir ons sterflikes
is daar geen aardskuddings,
is daar geen sonsverduisterings nie.
die blou tol draai voort.
die geel gloeilamp skyn aan.
sonder wankeling.
sonder flikkering.
sonder simpatie.
sonder nabetragting oor die sterflikheid
van die kortstondige sterflikes.
want dit is, allermins, hoe dit is.
om te lewe is om te sterwe.
nie Vader Son nóg Moeder Aarde
gee 'n dêm om nie.

maar vir wat dit werd is, my geliefde,
ek gaan jou mis.



after all
this is, after all, how life is.
people die. daily. alone or in groups.
but for us mortals
there are no earthquakes,
there are no eclipses.
the blue top continues to spin.
the yellow lamp continues to shine.
without wobbling.
without flickering.
without sympathy.
without musing over the mortality
of us momentary mortals.
because this is, after all, how it is.
to live is to die.
neither Father Sun nor Mother Earth
gives a damn.
but for what it is worth, my beloved,
i will miss you.  


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence