Showing posts with label maan. Show all posts
Showing posts with label maan. Show all posts

10.6.25

Stap vir sielsiekes

Daar word—soos in ’n wasige droom—geloop,
op ’n oeroue voetslaanpad
deur ’n bos, deur ’n woud;
en tussendeur smarag en jaspis,
olivien en goud
drup die son
in slierte stroop.

[Dié beskrywing is te mooi
vir die donkerrooi van depressie.
Maar, helaas, dié wandeling
het in die somer gebeur,
nie die herfs nie.]

Daar word onthou: mistige beelde
en buikgevoelens word krits-krits met elke trap
op die wandelpad herkou: herinneringe
tot bolusse gekou en met heimwee afgesluk
en weer onderdruk vir ’n ander keer se stap
deur bos, of woud, of strandlangs
onder ’n laatmiddagson
wat soos ’n oorrypvrug
uiteindelik val, rol, kneus,
skielik skimmel en vergaan
(of onder ’n koel middernagmaan
wat weet hoe om te terapeut
wanneer die hart nie woorde het nie).


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

8.3.25

Give me your hand

Give me your hand
A translation of my Afrikaans poem "Gee my jou hand"

give me your hand, show my your palm:
I want to navigate the rivers thereupon,
follow the salmon to the spawning waters,
anker my skiff at that fruitful place
where silver reeds dance like nymphs 
in the streams under the fullest full moon; 

take my hand as sacrifice:
burn it on the altar of your heart
and let the incense vine upwards
towards that faraway secret lair
from where muses pigeon myths
to scribe and stonemason;

let’s hold hands like old and your lovers:
for whom clasped hands are an embrace,
for whom interlaced fingers are lustful bodies,
for whom holding hands is a covenant—
let our skin bacteria shake hands,
explore each other, know each other, and cross-pollinate.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

31.3.15

'n Digter se waarskuwing

nie elke blom is 'n gedig nie,
nie elke wolk 'n perd of draak nie,
nie elke sonsondergang of volmaan
'n okkasie vir romanse nie.

soms is 'n roos 'n roos 'n roos
en 'n wolk bloot 'n swerm watermolekules
tydelik bevry van gravitasie se slawerny,
en sak die son beangs sy graf binne,
en klim die maan skarlaken haar kadel uit
en staar bloeddorstig uit oor al die donkerdade
wat slegs snags onder haar grootoog nagwag gebeur.

nie elke soen bemin nie,
nie elke “ek het jou lief”
weeg dieselfde op 'n hartskaal nie,
nie alle seks indring nie,
nie alle waarheid word met 'n liniaal bepaal nie.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

4.8.13

sedert dinsdag

die son kom op
die son gaan onder
die dag is blou
my hart is donker

sedert dinsdag reeds ignoreer jy my
jy bel nie na my huisfoon of my sel nie
jy los geen boodskappe, nie stem of teks nie,
my e-pos se inlaai is vol gemorspos
(alle pos wat nie jou pos is nie is mos)

die son gaan onder
die maan is donker
die son kom op
my hart is blou

die son is op
my hart is rou
die son gaan onder
sonder jou


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

27.2.13

Magnolia

Binnekort gaan die magnoliaknoppe
hulle sluiers soos Oosterse bruide oopgooi
en soos die volmaan maagdelikwit
hulself ontbloot;

—laat elke bruidegom wat 'n oog het sien;
laat elke beminde wat 'n neus het ruik;
laat elke minnaar wat 'n mond het proe—

binnekort is dit magnolia-tyd.




Soon the magnolia buds will
throw their veils to the wind like Oriental brides
and expose themselves
like the full moon, virgin white;
—every bridegroom that has an ear, let him hear;
every beloved that has a nose, let him smell;
every lover that has a mouth, let him taste—
it will be magnolia season soon.




... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

14.7.12

Ek het nie my hart op 'n someraand verloor nie


'n Vryvertaling van A. E. Housman se “I did not lose my heart in summer's even


Ek het nie my hart op 'n someraand verloor
terwyl rose oopbars met die maansopkoms nie:
maar met pluime om die voete en lood in vlug,
in bloed en rook en vlam het ek my hart verloor.

Ek het my hart verloor aan 'n soldaat en vyand,
'n kêrel wat—al het hy probeer—my nie kon dood nie;
wat nog in aanval my sabel reguit ontvang het
en gelag het en sy hand na my gesoen het en gesterf het.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

22.4.12

Onder 'n donkermaan

Vanaand gaan ek my velwissel
onder 'n donkermaan—

           'n hemafroditiese ek gaan dan,
           voor die dagbreek oopbreek,
           uit my kokon uit wikkel
           en die lewe se soet en sout,
           se warm en koud opvreet
           die nuwe ek
           maak nie onderskeid nie.

           More, wanneer hý voor my staan,
           of sý voor my staan, gaan ek
           nie diskrimineer nie. Aan welke tepel
           my gebied word gaan ek soog.

           My metamorfose laat my honger
           vir elke hart, alle niere, alle spiere;
           ek verorber als: manharde been
           en vrousagte murg, sening en gewrig.

—Vanaand, onder die donkermaan,
gaan ek my vel reptielies afskud,
my nuwe lyf uitstrek, versigtig inlyf,
en, slaggereed, my eerste prooi inwag.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

2.3.12

Geheime dade

Vanaand gaan ek vir my beminde
maanwit rose pluk. Net die roosskoon
maan sal van my geluk en geheime dade
weet: hoe ek op elke blom se kroon
'n fluistersagte soen laat rus — en dan belei,
hoe luidkeelslief ek vir haar is.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

5.4.11

Graffitti

My Lief,
ek het soos ’n cowboy
met ’n wurgtou
die maan gevang vir jou.
Natuurlik moes ek dit weer laat gaan –
het die forel terug gegooi
die diep (en mooi) donkerte in,
maar nie alvorens ek
met silwerwit klippe ons letters,
groot soos nostalgie,
daarop uitgespel het nie –
my graffitti
(soos my liefde)
ken geen perke nie.



My Love,
I caught like a cowboy
with a noose
for you the moon.
Naturally I had to let it go –
threw the trout back
into the deep (and beautiful) darkness,
but not before I
with silver white rocks our letters,
huge like nostalgia,
spelled out –
my graffiti
(like my love)
knows no bounds.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence