Showing posts with label liefde. Show all posts
Showing posts with label liefde. Show all posts

13.9.25

Langsamerhand

Terwyl ons stap,
langsamerhand
gly my linkerhand
jou regter een verby:
ons pinkies
—fladderende vinkies—
ontmoet,
groet in vlug
en land weerskant
van ’n olyfboomtakkie:
op hierdie rakkie
en met been en vlees
word ’n nes geweef.

Hier sal ons droomblou
gespikkelde eiertjies
lou-lou uitbroei,
en om die beurt sal ons
die ruspes bring,
totdat ons drome
self kan sing.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

8.3.25

Give me your hand

Give me your hand
A translation of my Afrikaans poem "Gee my jou hand"

give me your hand, show me your palm:
I want to navigate the rivers thereupon,
follow the salmon to the spawning waters,
anchor my skiff at that fruitful place
where silver reeds dance like nymphs 
in the streams under the fullest full moon; 

take my hand as sacrifice:
burn it on the altar of your heart
and let the incense vine upwards
towards that faraway secret lair
from where muses pigeon myths
to scribe and stonemason;

let’s hold hands like old and your lovers:
for whom clasped hands are an embrace,
for whom interlaced fingers are lustful bodies,
for whom holding hands is a covenant—
let our skin bacteria shake hands,
explore each other, know each other, and cross-pollinate.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

16.7.24

Die opstanding van Eva

Die Opstanding van Eva

3 November 2006

 

Soos ’n kind slapies tel vir Krismis, 

só wag ek vir Jesus om die son te gryp, 

dit met sy hande plat te spin nes pizza-deeg

en dié goue kleed as pantser om sy breë skouers te gooi.

 

Ek wag ongeduldig dat hy op die rug 

van sy gunsteling cumulus moet spring. 

Die wolk sal eers nukkerig sy wollerigheid afskud, 

dan groot wit vlerke ooprol soos seile op ’n skip, 

en eindelik, met wit spiere, soos ’n padda spring

– Aarde toe.

 

My Here se ligkleed sal hom volg soos ’n vurige rivier; 

sy gevleuelde weermag gewapen 

met pikke, spitvurke en grawe, agterna. 

Dis oestyd. 

As die trompet blaas – die skof aankondig – begin die delwery.

 

Ek gaan een engel om die hals gryp soos Jacob. 

“Wys my! Wys my mý engel se graf!”

Ons gaan draf, ’n ewigheid naby, 

tot waar my slapende skone lê. 


Die toneel is laf:

 

’n Dooie wat lui uitstrek, 

gul gaap, uitgerus glimlag en sê: 

“Ek’s dors – iemand vir ’n koppie tee?”

 

Ek gaan jou gryp 

en met slobberige heimwee soene 

die stof van jou gesig afskilfer. 

Jy gaan frons soos ’n pasgeborene.

 

“Wat’s fout met jou?! 

Is jy nog nie oor daardie donderse depressie nie?”, vra jy. 

Hoe kan ek depressief wees met my verlorene 

nou ’n nuut geborene, gaan ek dink. 

“Vir wat die oordadige affeksie?” 

Verlange is relatief. Jy het my ’n dag gemis. 

Ek mis jou reeds jare lank, maar ek sê niks nie. 

Ek hou jou net vas asof jy enige oomblik wind gaan word.

 

Miskien gaan ek vra hoekom jy nie jou sexy denim 

vir hierdie okkasie aan het nie 

en jy gaan met jou kritiese oog sê dat jou blink nuwe rok 

meer gepas is, al sit dit bietjie losserig om die middel. 

Dalk sal jy mompel dat dit na ’n kraamrok lyk, 

maar jy hou van die materiaal.

 

Ek gaan lag. 


Ons gaan rond kyk en sien of ons nie Amanda Strydom

êrens sien nie. Sy gaan ’n negro-spiritual sing. 

Ek vermoed “Swing low, sweet chariot”. 

Ons familie en vriende gaan oral om roep 

soos afslaers op vandisie dag. 

Ons gaan beurte maak om mekaar se geliefdes te soengroet – 

maar nie mekaar se sy verlaat nie. Nie weer nie.

 

Jesus gaan ons nooi vir piekniek 

onder die Groot Boom. 

Ons gaan op ’n blokkieskombers sit. 

Hy gaan ’n kitaar van nêrens af na vore bring – 

jou maroen akoestiese kitaar met die prentjies op – 

en gaan vir ons ’n liedjie sing. 

Ons gaan aan die deuntjie hang soos verliefdes. 

Jy gaan borrel oor die harmonie. 

Ek gaan ekstaties raak oor die beeldspraak.

 

Vir ’n duisend jaar gaan ons verlore tyd inhaal. 

Ons gaan dekades lank gesels oor dieselfde onderwerpe. 

Ek sal vir jou sê dat ek jammer is oor so baie dinge. 

Ons gaan ’n bietjie huil. 

Jesus gaan ’n boks tissues nader trek.

 



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

19.12.19

A plea to the conqueror

It is bricked up, you know, 
my heart; it's fortressed shut 
and securely protected
against pillager and thief. 

Not because it is valuable
as such, for what could
a ruined heart be worth 
on the blackmarket of love?

It is just that it is sensitive, 
the exposed nerve endings
filamenting from the shattered 
pieces and open wounds. 

That's why, you see, the bricks
and buttresses, the moat and all. 
Thus I besiege of you to seize 
this siege and cede your loot. 

For surely a cracked and broken 
clock is hardly worth the effort
of such a vigorous campaign 
with so little wealth to gain. 

29.4.19

"wat is die mens"

Laat ek my verwonder
aan die wonder van jou:

jý—mens—wat beide duister en lig is,
beide demoon en verlig is,
staan regop, kop orent en kyk die dieptes
van donker heelalle en diepste sielle binne
en sien hoe jý—mens—gewigtig is:

dat jou doen en jou late
bewonderingswaardige
gravitasie het—
dat jy kan seermaak en heelmaak
en doodmaak en liefdemaak

—jou elke denk en daad
is sakraal en verraad.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

13.8.17

’n Liefdesverklaring

díe agtermiddag son

’n goudfisant
skop stof op die skof
van die land

is duidelik
ge-photoshop

want géén egte geel
is só geel
soos díe son
se goudgeel nie

maar jý my manlief
of my vroulief
is my regte égte
lief-lief


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

13.6.17

Kunsbeenrituele

Palms om borste,
arms om heupe,
lippe om woorde
vou die nostalgie nes vlerke
ver vanuit die verlede
’n nagmantel rondom ons hede:
hier is nie wierook of mirre
om gister se kwaai gode
te paai nie: slegs bloed is genoeg
as offer vir daardie kunsbeenrituele
van ouds wat ons siele soos binnegoed vervleg
het—die bloed van ons ongebore,
nooitgebore kinders wat nes ongesêde,
nooitgesêde drome in vlakgrafte
om ons voete lê—soos verwyt:
ek het jou lief, my lief, veraltyd.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

29.10.16

Groen gras en rooi grond

My slapende geliefde
se koue beendere
is ’n kaggel waarby
nostalgiese gedagtes
soos winterskinders
kaalvoet sit
en probeer
vingers&tone
warm maak.

Eendag sal ek nog
my verdorde geliefde
se tuin besoek,
’n bos blou tulpe bring,
en daar op die gras
kaalvoet sit,
met pen&pampier,
en met kitaar,
dat daai mooi
komposisie
wat ons lank, lank
gelede begin het,
klaar kan kom
om só ons liefde
op te som.

Wanneer ek klaar is,
met ’n son en maan
wat treur en taan,
sal ek pens&pooitjies lê
en die deuntjie neurie
die groen gras
en rooi grond in,
sodat haar koue klei
kan resoneer,
kan vibreer,
en dalk, miskien
weer vlam kan vat
en dalk, miskien
ons nog ’n keer
soos toentertyd
saam kan sing
en kan jolyt!


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

31.3.15

'n Digter se waarskuwing

nie elke blom is 'n gedig nie,
nie elke wolk 'n perd of draak nie,
nie elke sonsondergang of volmaan
'n okkasie vir romanse nie.

soms is 'n roos 'n roos 'n roos
en 'n wolk bloot 'n swerm watermolekules
tydelik bevry van gravitasie se slawerny,
en sak die son beangs sy graf binne,
en klim die maan skarlaken haar kadel uit
en staar bloeddorstig uit oor al die donkerdade
wat slegs snags onder haar grootoog nagwag gebeur.

nie elke soen bemin nie,
nie elke “ek het jou lief”
weeg dieselfde op 'n hartskaal nie,
nie alle seks indring nie,
nie alle waarheid word met 'n liniaal bepaal nie.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

1.3.15

Strek

Soos 'n vel wil ek uitstrek, soos 'n veld ooprol
en die son soos liefde indrink—my hart oopvlek
nes palms na gebed om die seën te vang.

Ek wil my self strek, die senuwees rek,
die morele sinapse soos 'n lier
sakrosant stem en plegtig stram.

My talente wil ek strek van horison tot aardsrand,
my verbeelding soos die konstelasies
in ses pare in span, 'n koets op die melkweg.

Laat ek myself strek: my vrese raakvat
en inperk, met geoefende soepel spiere
en 'n vasberade kyk vasvat en uitwerp

die duisternis in. Ek vrees nie die donker nie.
My siel lê uitgestrek en spin tussen die sterre
soos 'n swart kat wat diep die donker in kan sien.

Mag ek myself oopstrek soos 'n gekruisigde
wat in innige pyn empatiek almal wat gepynig
is omhels met wyd gestrekte oop omarmde arms.

God, strek my soos 'n gordel en omgord my
soos 'n profeet en maak my kinderlik nuttig
vir die liefdestaak van menswees.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

6.2.14

Weer

Tussen 'n menigde merk ek
hoe ek gemerk is,
uitverkies is tussen mans en vrouens
en broers en susters en kinders,
tussen vriend en vyand,
tussen bekendes en vreemdes;
hoe jy my herken, úítken
asof ons mekaar in vorige lewens
menigmaal geken het.

En sou ek in sulke dinge glo,
dan stem ek in: kom ons verken mekaar,
kom ons reïnkarneer en ontdek mekaar
van vooraf weer en bemin mekaar nog 'n keer:
een lewe om mekaar in lief te hê,
my geliefde, is vééls te min—



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

24.9.13

’n sms in perspektief

die heelal ʼn balkon
die buitelig ʼn son
die motte is planete
die muggies is komete

daai geitjie ʼn gravitasiekolk
en jou sms: ʼn dolk
met gelaktiese gevolge:
aan kosmiese wonde
bloei my siel leeg

ek is geweeg: te lig gevind?
hoe is jy van die liefde ontblind?

ligjare ver sterf ek—
sedert die Grootknal al
is ek aan die vrek,
nes die ganse grote hele heelal—

jou sms kom reeds soos die eerste sonde
en ek sterf soos Christus aan Adam se wonde



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

20.9.13

Blom

Vryvertaal uit Koreaans vanaf 'n gedig deur Kim So-yeop


My liefling!
Jy's nie 'n man nie.
My liefling!
Ek is nie 'n vrou nie:
Nie man of vrou nie, maar mense.

Die oggenddou was sewekeer
die kiem van ons liefde –
laat 'n naamlose saad:

Ek wil jou tuin heen gaan
en in besonderse bloeisels blom.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

9.8.13

Onkundige sonnet

ek weet nie hoe vrouens se koppe werk nie
of mans se koppe of kinders s'n nie
ek weet nie eens hoe myne werk nie:
hoe die sappies veronderstel is om te prut
en die vonkies veronderstel is om te spat
en al daardie draadjies en takkies en padjies
maak dat ek kan dink en misdink nie

ek verstaan nie die lewe se meganismes nie:
die kleppe en pype en buise en ratte nie
en hoe alles roteer en inmekaar pas nie

en, ag fok, die liefde verstaan ek regtig nie:
hoe 'n katmens 'n hondmens lief kan hê
of 'n ingenieur 'n digter inspireer nie

halfpad deur my lewe en ek verstaan nie eens 'n sonnet nie



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

15.7.13

Aan almal wat die ratte geölie hou / To All Who Keep the Gears Greased

Aan almal wat die ratte geölie hou

Ek het die jagters lief,
die gaarders, die slagters, die verbouers,
die bakkers, die grouers, die bouers,
die wewers, die kinderoppassers, die voeders,
die opvoeders, die versorgers, het ek lief.
Almal wat die ratte geölie hou.
Wat hulle hande vuil kry,
wat sweet, wie se voete brand
na 'n lang dag van swoeg,
wie se rûe pyn soos Atlas s'n.
Kom, kom sit en laat ek jou voete was;
kom, kom dat ek jou skouers vryf,
die sweet van jou voorkop met my mou af vee;
kom, dat ek jou growwe hande in myne hou,
jou op die lippe soen soos 'n kammeraad.
Kom, kom sit hier, kom rus,
kom luister hoe ek jou besing—
ek het jou lief.


To All Who Keep the Gears Greased
I love the hunters,
the gatherers, the butchers, the farmers,
the bakers, the diggers, the builders,
the weavers, the child-rearers, the feeders,
the educators, the caretakers—I love them all:
All who keep the gears greased.
All who get their hands dirty,
who sweat, whose feet burn
after a long day of toil,
whose backs ache like that of Atlas. 
Come, come sit and let me wash your feet;
come, come let me rub your shoulders,
wipe the sweat from your brow with my sleeve,
let me kiss you on the lips like a comrade.
Come, come sit here, come rest,
come listen how I serenade you—
I love you. 


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

15.6.13

Die pyn van liefde

'n Vryvertaling van 'n ou anonieme Kwakwaka'wakw gedig. 


Vuur stormloop deur my lyf met die pyn wat dit is om jou lief te hê;
pyn stormloop deur my lyf met die vuur van my liefde vir jou;
siekte loop sirkels in my lyf met my liefde vir jou;
pyn soos 'n blaas wat wil oopbars met my liefde vir jou—

Ek onthou steeds wat jy vir my gesê het.
Ek dink aan jou liefde vir my.
Ek word verskeur deur jou liefde vir my.

Waar gaan jy heen my geliefde?
Ek hoor jy gaan weg hiervandaan.
Ek hoor jy gaan my hier agter laat.

My lyf is verlam van verdriet.
Onthou wat ek vir jou gesê het, my lief.
Tot weersiens, my lief, totsiens—


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

17.1.13

Navorsingsmetodiek


Hipoteses is verwoord
Data is ingesamel
Statistieke is opgestel
Gevolgtrekkings is getrek
Teenargumente is vals getoon
Die navorsers is dit eens:
Ek het jou lief.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

25.5.12

Dors


kyk hoe horingdor is dit, hoe brosdroog,
sien hoe dit skilfer, hoe staan die stof
met elke tromslag, krummel dit met aantas,
hoe poeier die roes, hoor hoe kraak die skaniere,
verwelk tot stok, verkrimp tot klont,
verneder tot kurk en grond

o hoe dors my hart na die lafenis
wat jou liefde is!



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

6.3.12

Roekeloos

jy is
'n roekelose
liefdadiger
met geen respek
vir die reëls
van die hart nie


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

2.3.12

Geheime dade

Vanaand gaan ek vir my beminde
maanwit rose pluk. Net die roosskoon
maan sal van my geluk en geheime dade
weet: hoe ek op elke blom se kroon
'n fluistersagte soen laat rus — en dan belei,
hoe luidkeelslief ek vir haar is.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence