Showing posts with label blom. Show all posts
Showing posts with label blom. Show all posts

31.3.15

'n Digter se waarskuwing

nie elke blom is 'n gedig nie,
nie elke wolk 'n perd of draak nie,
nie elke sonsondergang of volmaan
'n okkasie vir romanse nie.

soms is 'n roos 'n roos 'n roos
en 'n wolk bloot 'n swerm watermolekules
tydelik bevry van gravitasie se slawerny,
en sak die son beangs sy graf binne,
en klim die maan skarlaken haar kadel uit
en staar bloeddorstig uit oor al die donkerdade
wat slegs snags onder haar grootoog nagwag gebeur.

nie elke soen bemin nie,
nie elke “ek het jou lief”
weeg dieselfde op 'n hartskaal nie,
nie alle seks indring nie,
nie alle waarheid word met 'n liniaal bepaal nie.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

20.9.13

Blom

Vryvertaal uit Koreaans vanaf 'n gedig deur Kim So-yeop


My liefling!
Jy's nie 'n man nie.
My liefling!
Ek is nie 'n vrou nie:
Nie man of vrou nie, maar mense.

Die oggenddou was sewekeer
die kiem van ons liefde –
laat 'n naamlose saad:

Ek wil jou tuin heen gaan
en in besonderse bloeisels blom.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

27.2.13

Magnolia

Binnekort gaan die magnoliaknoppe
hulle sluiers soos Oosterse bruide oopgooi
en soos die volmaan maagdelikwit
hulself ontbloot;

—laat elke bruidegom wat 'n oog het sien;
laat elke beminde wat 'n neus het ruik;
laat elke minnaar wat 'n mond het proe—

binnekort is dit magnolia-tyd.




Soon the magnolia buds will
throw their veils to the wind like Oriental brides
and expose themselves
like the full moon, virgin white;
—every bridegroom that has an ear, let him hear;
every beloved that has a nose, let him smell;
every lover that has a mouth, let him taste—
it will be magnolia season soon.




... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

22.7.12

Boek en boekmerk

Image Source

Nes 'n boek val jou dye voor my oop en ek verdiep my aan jou binnebene
se roomkleurige blaaie en die botterreuk van leer en van papier en my oë hardloop
met los heupe oor jou letters en ek blaai jou verhaal met my geletterde tong
by kerslig tot die dagbreek kom en as ek jou laaste sin ingesluk het

—my asem vir 'n ruk opgehou het—

klim ek dan 'n wilde perdeblom jou binneblaaie in en soos 'n vlerk vou jy ferm om my
en met 'n storie se geduld pars en tem jy my tot ek 'n makgemaakte boekmerk in jou bly.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence