Showing posts with label versoen. Show all posts
Showing posts with label versoen. Show all posts

9.12.14

Stilstuipe

asseblief, sê tog iets.
sê iets voor die son opkom.
voor al die gespikkelde kwarteleiers
wat ons deur die nag gelê het, uitbroei.
sê iets voor die uitgebroeide kuikens
op ons kliphart-altaars as sondeoffers uitbloei,
voor een of ander demoon of dreksel die offermaal
bywoon, voor magte ons lot verseël met bloed en spoeg
en groot donker woorde, voor dolosse rol en ons derms
in kringe op die karos lê, vóór die bliksems bulder
met sonsopkoms—sê tog asseblief net iets,
sodat ons kan soen en die hemel te hulp kan roep!


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

10.3.13

Lentetyd


Liefling, dis lentetyd:
laat my aan jou lentebloeisels ruik,
aan jou blommeknoppies knibbel;
kom, nou is immers die geleentyd
om in pas met die seisoen te wees,
laat ons soen, versoen en gelukkig wees!




... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

1.9.12

Sportsmanskap

Oor jou sweetwarm lyf lê ek
my volle gewig in spieëlbeeld
en skielik kompeteer ons
reflekterende organe:

my hart en jou hart hurk gereed
klop een-twee-drie     spring weg!
ons mage grom nes onbekende
honde binnesmonds vir mekaar
ons monde pluk hul swaarde uit
en snel nes gladiators na die slagveld
ons hande stormloop mekaar soos ramme
takbokhoringpalms KLAPS!
ons genitalië: ongeskikte xenofobe
wat mekaar vloek en slaan en spoeg.

Maar agterna omhels ons resieswarmlywe
uitasem, tog genoeë, soos dit sportsmanne betaam.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

16.5.11

Versoenery

laat ons nie te haastig wees
om die liefde totsiens te soen nie –
’n gesoenery is in elkgeval bedoel
vir versoenery en nie groetery nie.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence