Showing posts with label lyf. Show all posts
Showing posts with label lyf. Show all posts

31.8.18

Die seun van die mens

hy staan ’n mistigheid
en drink die mis

sy seëninge tel hy hopeloos
want ons heelal se kolofon

dui ’n druktyd en verwyt
daarom asem hy die einde

soos wasem voor die son
met leë hande en hartseer oë

sy ledemate en lendene
verdamp in die verdrietigheid

nes muses in ons drome
verdwyn hy soos ’n lied

nes gode in ons wense
verskiet hy in die niet


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

28.1.15

Kretaanse krygers

Op Kreta stamp die hitte
hulle kaal lywe bullerig
—sout en semen puls bloederig
uit hul wonde uit, rol stywe spiere langs,
drup van gespanne kurwes af—
soos die Cycladese pols hulle:
van binne tot buite,
van koppe tot kuite.

Selfs die grootte Zeus, óók hier gebore,
het skone Europa in Kreta se buitelug
met sy geëlektrifiseerde saad bevrug.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

10.9.14

Soenseisoen

Soen my net—soen my nou;
soen my op die sagteplekkie, broos en beskermend
soos 'n nuwe moeder 'n splinternuwe kind
waaraan die nattigheid nog klou;
of soen my op my voorkop soos 'n trots patriarg
wat 'n agter-agterkleinkind inhuldig; of gee my 'n heilige kus
soos 'n skepper wat lewe sy skepsel se neus binne blaas;
of plant jou tong wellustig en profaan my praatput in,
maak dat ek my woordesluk en aan jou soen verstik;
byt my nek met vampieriese dors; suig soos 'n onvergenoegde vul
aan my harige bors; lek die testosteroon aan my pektoraal,
proe my feromoon in die bedompige koelte van my armholte
en volg met jou tong die golwe van my ribbekas,
die kruise van my buik, die mik wat na my pubis lei,
my fallus en my bas; knibbel agter my knieknoppe en kuite
en tussen my tone asof jy 'n kewer is; kruwel mondeliks
oor elke plek wat deel van ek is, sodat ek gelyktydig
orgasties gril en liries gil—soen my net,
want daar is min dinge wat so seldsaamsoet
soos 'n soen is, eens die seisoen aangebreek het.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

23.2.14

Herhalingsmisdadiger

2005/2006


’n herhalingsmisdadiger: vang jy my uit
as my oë die jardste keer jou clevage lek
en ek doofstomdomdwaasgek opkyk

stotterend verklaar ek; gee ek toe; gee ek mee–
ek’s skuldig
skuldig soos die see

ewe halsoorkopbommelakisiekopstampdolverlief
verlief soos bronstige branders vir rotse
só is ek verlief op jou      en op jou borste.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

19.2.14

groenweivelde

2005/2006


In die trippel van jou lippe
wat soos wolklammers
oor die blou-oog van die hemel drawwe,
les my lentestogte, my drommende driwwe,
my liestelike gierigheid.

In jou lieflike loulyf
lafenis my bronstigheid–
vind ek rus in die groen
weibemindlikheid
van jou kruine en dale.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

11.2.14

Drumpel

2006/2007


Jou lyf, plek-plek sag,
plek-plek styf,
is uitgestal.

Ek lek-lek jou lekkertes
tot jy huigend
oor die drumpel val.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

15.6.13

Die pyn van liefde

'n Vryvertaling van 'n ou anonieme Kwakwaka'wakw gedig. 


Vuur stormloop deur my lyf met die pyn wat dit is om jou lief te hê;
pyn stormloop deur my lyf met die vuur van my liefde vir jou;
siekte loop sirkels in my lyf met my liefde vir jou;
pyn soos 'n blaas wat wil oopbars met my liefde vir jou—

Ek onthou steeds wat jy vir my gesê het.
Ek dink aan jou liefde vir my.
Ek word verskeur deur jou liefde vir my.

Waar gaan jy heen my geliefde?
Ek hoor jy gaan weg hiervandaan.
Ek hoor jy gaan my hier agter laat.

My lyf is verlam van verdriet.
Onthou wat ek vir jou gesê het, my lief.
Tot weersiens, my lief, totsiens—


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

1.9.12

Sportsmanskap

Oor jou sweetwarm lyf lê ek
my volle gewig in spieëlbeeld
en skielik kompeteer ons
reflekterende organe:

my hart en jou hart hurk gereed
klop een-twee-drie     spring weg!
ons mage grom nes onbekende
honde binnesmonds vir mekaar
ons monde pluk hul swaarde uit
en snel nes gladiators na die slagveld
ons hande stormloop mekaar soos ramme
takbokhoringpalms KLAPS!
ons genitalië: ongeskikte xenofobe
wat mekaar vloek en slaan en spoeg.

Maar agterna omhels ons resieswarmlywe
uitasem, tog genoeë, soos dit sportsmanne betaam.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

22.7.12

Boek en boekmerk

Image Source

Nes 'n boek val jou dye voor my oop en ek verdiep my aan jou binnebene
se roomkleurige blaaie en die botterreuk van leer en van papier en my oë hardloop
met los heupe oor jou letters en ek blaai jou verhaal met my geletterde tong
by kerslig tot die dagbreek kom en as ek jou laaste sin ingesluk het

—my asem vir 'n ruk opgehou het—

klim ek dan 'n wilde perdeblom jou binneblaaie in en soos 'n vlerk vou jy ferm om my
en met 'n storie se geduld pars en tem jy my tot ek 'n makgemaakte boekmerk in jou bly.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

21.7.12

Die versoeking


dit is laat
breek jou vas
jy lyk bleek
ek maak jou iets te eet
haal jou stralekrans af
trek jou toga uit
kom bed toe
dis okay
kom lê jou lyf
teen my




... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

15.6.12

soos lou heuning drup jy jou lang lyf
            oor my, giet jy jouself in warm sûe
                                         oor my lyne en my brûe



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

3.12.11

Net nie 'n liefdesgedig nie

Ek wil so graag ’n gedig skryf, maar ek het geen inspirasie nie. Ek kan altyd oor die liefde skryf – liefdesgedigte gebeur maklik vir my.

Liefdesgedigte is soos bloedgieting. Dit neem nie baie nie. / Die ligste prik en die siel anus oop, en uit ontkiem die liefdesgedig. / Selfs ’n kind, gehok aan ’n tekort aan woorde, / kan met dié bietjie tot haar beskikking ’n liefdesgedig teel / vir haar ma, of haar pa, of haar kys. / Ja, selfs die Rugby-jock, kan vir sy gryp sê: / Ek dig jou soos my tokse!

Om oor die vrou te dig: die lyn van haar lippe te beskryf as hoë wenkbroue; / haar olieklam mond as ’n vaginarooi arbei; / haar tong wat soos ’n hand van my hart ’n troeteldier kan maak – dit kan liefkoos – / te beskryf as ’n lemmetjie wat genadeloos my polse sny; / haar tepels: geniepsige Braille wat roep om gelees te word; / haar gul heupe: ’n vibrerende cello; is maklik om te dig.

Om oor die passie – stellig nee! die wellus – te dig, neem min sweet; / inteendeel dis in die sweet (óns sweet wat aan mekaar plak soos tweespalkwoorde, / byvoorbeeld hart[s]-tog, hart[s]-verlange, hart[e]-dief) / dat die wellustigste gedigte lê en prut.

Dit vat nie veel om oor die liefde te dig nie. Daarom wens ek, ek kan ’n gedig skryf. Ek is bronstig om ’n gedig te skryf. Net nie ’n liefdesgedig nie. Maar buiten die liefde is daar geen inspirasie nie.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

26.11.11

My liefie se lyf

Die Vrystaat se vlaktes is kraakwit,
die skaap en bees se asems spook;
vandag gaan g'n trekker start nie,
maar ek gee nie 'n koei om nie:

My liefie se lyf is koffiewarm.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence