1.10.20

val ons deur mekaar

my siel suis soos ’n komeet
deur sterrestelsels val ek
deur jou soos ’n ster verskiet
deur jou val ek jou verby
soos ’n satelliet mis ek jou
deur my verdriet deur senuwee
en -stelsel val jy deur my sinapse
deur my vingers soos sand
deur my lewe deur jou hande
soos die see vol trane
val jy my wese uitgespoeg
soos woorde: klippe val
om te stenig, só val ek,
so gooi ek die eerste een
en val uit my hart uit
deur jou val ek
tot ek leeg uitgegooi
en vervalle is val ek
deur jou en jy deur my
deurmekaar val ons
deur mekaar

2007


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence