Showing posts with label verwyt. Show all posts
Showing posts with label verwyt. Show all posts

31.8.18

Die seun van die mens

hy staan ’n mistigheid
en drink die mis

sy seëninge tel hy hopeloos
want ons heelal se kolofon

dui ’n druktyd en verwyt
daarom asem hy die einde

soos wasem voor die son
met leë hande en hartseer oë

sy ledemate en lendene
verdamp in die verdrietigheid

nes muses in ons drome
verdwyn hy soos ’n lied

nes gode in ons wense
verskiet hy in die niet


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

13.6.17

Kunsbeenrituele

Palms om borste,
arms om heupe,
lippe om woorde
vou die nostalgie nes vlerke
ver vanuit die verlede
’n nagmantel rondom ons hede:
hier is nie wierook of mirre
om gister se kwaai gode
te paai nie: slegs bloed is genoeg
as offer vir daardie kunsbeenrituele
van ouds wat ons siele soos binnegoed vervleg
het—die bloed van ons ongebore,
nooitgebore kinders wat nes ongesêde,
nooitgesêde drome in vlakgrafte
om ons voete lê—soos verwyt:
ek het jou lief, my lief, veraltyd.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence