Showing posts with label godsdiens. Show all posts
Showing posts with label godsdiens. Show all posts

10.11.23

Gee my jou hand

gee my jou hand, wys my jou palm:
ek wil die riviere daarop navigeer,
die salm opwaarts volg na die kuitwaters,
my skuit anker by daardie vrugbare plek
waar silwer grashalms soos nimfe in die strome
onder die volste volmaan dans;
 
neem my hand as offergawe:
brand dit op die altaar van jou hart
en laat die wierook opwaarts rank
na daardie ver geheime laer
waarvandaan muses mites duif
na skribent en bytelaar;
 
laat ons hande hou soos jong en ou verliefdes:
vir wie ingepalmde hande omhelsings is,
vir wie ingevlegde vingers wellustige lywe is,
vir wie hande vat ’n verbond is—
laat ons velbakterieë met die hand groet,
mekaar verken, beken, en kruisbestuif.

... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

5.3.21

Op ’n swerwende dag

’n Vryvertaling van Kim So-Yeop se gedig: “떠도는 날에”


Op ’n dag, sonder my wete, 
het ’n dief my binne gesluip,
my hart* gesteel
en weggehardloop.

Opsoek na my verlore skat,
swerf ek rond vir tien jaar lank,
tot ek aan die punt van ’n naakte takkie die son ontmoet,
en terug draai huis toe.  

Ek breek die geroeste slot,
en tree my kamer binne: 
vir tien jaar lank het my hart lê-wag, 
geroes maar ongedeerd, in die stof. 


* Reël 2, “hart”: Die woord “마음” kan verwys na jou hart (maw, jou gevoelens) asook jou gedagtes. In die Koreaanse volksmond gebeur jou denke in jou hart, eerder as jou kop.

---

Soos dit is met goeie digkuns, blyk die gediggie aanvanklik baie eenvoudig, maar met dieper lees onthul dit gewigtige temas. Die gedig is 'n metafoor vir onkunde en verligting (“entlightenment”). In haar onkunde dink die spreker dat sy iets te kort is. Sy dink dat haar kern (“hart”) van haar geroof is. Maar na ’n ontmoeting met die Son (die oomblik van haar “enlightenment”) besef sy dat dit waarna sy gesoek het nie êrens anders te vind is nie. Sy moet terugkeer, haarself en haar verlede konfronteer, en daar sal sy die antwoord vind: dat sy nooit regtig te kort geskiet het nie. Haar verlore skat was nooit weg nie—díe het gelê en wag, binne in haar, “geroes maar ongedeerd.”


Oorspronklike gedig:

<떠도는 날에>

 

언젠가 나도 몰래

도둑이 들어

내 마음 모두들 훔치어

달아나 버렸네.

 

잃어버린 보물 찾아

헤매인 십 년

빈 가지 끝에 걸린 해를 만나곤

비위 둔 집으로 되돌아왔네.

 

녹슨 자물쇠를 부수고

내 방에 들어와 보니

십 년 전 내 마음도녹이 슬어서

고스란히 먼지 속에 놓이어 있네.

 

김소옆



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

7.10.19

Kleikind

’n Vriend (nou dood)
het my op ’n keer oor die foon vertel
van ’n profeet (óók reeds dood)
wat in visioen gesien het,
hoe Adam (voortyd terug al dood)
morsdood omgeslaan het,

toe hy vir die eerste keer
Moeder Aarde se bloedrooi grond
gewaar het (dié roes Oervagina
waaruit hy gebore was),

want, soos ons álmal wéét,
was dit in die oertyd
’n ergelike verskrikking
van ’n ding vir ’n kind
om sy ma, óf sy pa,
se skaamte te sien,

en hoedat die Vader
sy kleikind uit die dood
moes opwek—deur
’n tweede keer
die lewelose lyf
met lewenswind
deur die neusgate in
in te blaas.

Maar dit het hom nie,
sê my vriend (wat dood is)
die Tweede Adam gemaak nie;
hy was steeds die eerste een,
al het hy twee keer gelewe
en gesterwe: stof-tot-stof.

’n Mansmens is tog
so ’n brose ding,
jy weet.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

1.3.15

Strek

Soos 'n vel wil ek uitstrek, soos 'n veld ooprol
en die son soos liefde indrink—my hart oopvlek
nes palms na gebed om die seën te vang.

Ek wil my self strek, die senuwees rek,
die morele sinapse soos 'n lier
sakrosant stem en plegtig stram.

My talente wil ek strek van horison tot aardsrand,
my verbeelding soos die konstelasies
in ses pare in span, 'n koets op die melkweg.

Laat ek myself strek: my vrese raakvat
en inperk, met geoefende soepel spiere
en 'n vasberade kyk vasvat en uitwerp

die duisternis in. Ek vrees nie die donker nie.
My siel lê uitgestrek en spin tussen die sterre
soos 'n swart kat wat diep die donker in kan sien.

Mag ek myself oopstrek soos 'n gekruisigde
wat in innige pyn empatiek almal wat gepynig
is omhels met wyd gestrekte oop omarmde arms.

God, strek my soos 'n gordel en omgord my
soos 'n profeet en maak my kinderlik nuttig
vir die liefdestaak van menswees.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

8.9.13

ek het ook op 'n tyd 'n moeder gehad / Once Upon a Time I Had Also Had a Mother

Ek het ook op 'n tyd 'n moeder gehad

ek het ook
op 'n tyd  
lank gelede
toe wolke nog diere en skepe was
'n moeder gehad

'n ma

'n mamma

wat soos 'n god
my lank lank gelede
gesoog en versorg en verknog het
wat in my die potensiaal gesien het
wat slegs God en moeders kan sien
wat die eerste vrou in my lewe was
die templaat vir al wat vrou is
van Eva tot nou is

ek het ook op 'n tyd 'n moeder gehad

en soos alle moeders het sy ook
onder jou koue lem beland
jou rypvingers het haar om die keel gegryp
en God het staan en toekyk
want dis die lot van alle moeders
dat hulle kinders kan onderskei
tussen God en mens
tussen Hom en klei

op 'n tyd het ek ook 'n God gehad
soos 'n moeder

Once Upon a Time I Had Also Had a Mother
I had also had
once upon a time
long ago
when clouds were still animals and ships
a mother
a mom
a mommy
who like a god
long long ago
nursed and cared for and pampered me
who saw in me the potential
that only God and mothers can see
who was the first woman in my life
the template for all that a woman can be
from Eve till now
I had also had a mother once upon a time 
and like all mothers she had also
come under your cold knife
your frigid fingers had her by the throat
and God was just looking on
because this is the fate of all mothers
so that their children can discern
between God and man
between Him and clay
once upon a time I also had a God
like a mother


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

26.5.13

weersiens

jy draai jou rug op my soos die verlede
en ek, ek gooi my arms om jou bene

          ne me quitte pas, ne me quitte pas
                    ne me quitte pas, ne me quitte pas!

in jou koffer weg gepak, lê die offer
van my hart en die storieboek
wat vertel van die versoeking en die val
van die sondebok en die beloofde land
van slegvroue en van slegter mans
van verraaiers, van 'n tweede kans


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

28.12.12

Onthou U Here?

Onthou U Here, daardie aand toe ek kom smeek het?
Dit moes 'n wintersaand gewees het,
want die benoudheid van my klaaglied
het soos 'n natgereënde jas koud om my geklou.

Onthou U Here, hoe ek onbaatsugtig, soos Christus u Seun,
nie om my eie welstand gepleit het nie?
maar vir die van mý seun—totdat my hart bloed gesweet het
en ek die voete van die olyfbome met my trane gevoed het.

Onthou U Here, hoe ek my vertroue soos 'n diertjie
in die linne van geloof na u altaar gebring het?
Hoe ek gesnik het, Here, “spaar tog my kind van díe verdriet,
want U is God en U is Goed, laat u goeie wil geskiet!”

Is dit Here, omdat ons nie u Seun gespaar het nie
dat ons seuns ook nie die noodlot vry spring nie?
Here, is U toe al die tyd moedswillig soos 'n kind,
daarom dat U my kind deur wolwe laat verslind?

Onthou U Here, daardie aand toe ek kom smeek het?
Was my pleidooie dan gekaap óf misplaas óf verskeer?
Hoe anders moet ek dan u stilswye interpreteer?
Is dit Here, omdat ons nie u Seun gespaar het nie?


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

21.7.12

Die versoeking


dit is laat
breek jou vas
jy lyk bleek
ek maak jou iets te eet
haal jou stralekrans af
trek jou toga uit
kom bed toe
dis okay
kom lê jou lyf
teen my




... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

4.7.12

Die Tafelbergsutras


Laat val jou oë met vergenoegdheid op die blou 
bo die baai, dan sien jy hom—Gautama—ewiggroot
in sy missag mantel sit: kruisbeen en vriendelike
soos 'n boeppens Khoi, kalbas en al, op Tafelberg.

Sien hoe raak sy regterhand met lenige
songeel vingers die berg se bronsbruin wand:
hy roep haar as getuie—Mara se sondige land—
Suid-Afrika is stampvol lyding: selfsug,
onvergenoegdheid, 'n bronstige honger.

Die Boeddha sit hier op ons stoep
en weerskante die kongōrikishi:
hoe gepas díe Duiwel en díe Leeu
om die heilige Siddhārtha op te pas.

“Wat maak hy hier?” en hy verdwyn.
“Hoekom sit hy daar?” en hy is weg.

                    die moordenaar ken hom nie
                    die dief kan hom nie besit nie
                    die hoereerder kan hom nie aanraak nie
                    die leunaar word nie gehoor nie
                    die dronkaard kan nie besin nie

Maar die Boeddha bly barmhartig:
Die agt voetslaanpadjies lei tot by sy
voete wat tussen die fynbos en proteas rus.




... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

12.11.11

Fiktiewe martelaarsendeling in die Oriënt

ewenas ’n oggendkoerant
blaai jy my dat ek slem
soos ’n oosterse waaier
– frit –
              knak my ken
jou tong lem
jou lem snit
my siel bloed
kersiebloeisels drup
my keel groet
“Vader vergewe,
                            en Amen”



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

3.11.11

Naartjie / Clementine

Beminde,

Jou hande is gespesery met die naartjies
wat jy vanmiddag vir my afgeskil het—versigtig
om nie die klein warm fetusse te kneus nie.

Jy’t jare se oefening daarin,
want só het jy ook mý hart ontgin:
die kliphart vernuftig afgedop

tot jy uiteindelik my vleeshart—versigtig
soos ’n pasgebore bebloede baba—
in jou palms, nes ’n naartjie, genes het.


Beloved,

Your hands are spiced with the clementines
you peeled for me this afternoon—carefully
so not to bruise the warm little fetuses.

After all, you have years of practice,
for that’s how you broke open my heart:
skilfully skinned the heart of stone

until you delivered my heart of flesh—carefully
incubated the blood covered newborn
like a clementine in your palms.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

29.9.11

Sien die oumense

Sien die oumense.
Hulle vaal gesigte deur tyd en arbeid geërodeer;
die blossende jeug, eens wulps soos faanramme,
is afgeskilfer; in roesvlekke slaan hulle velle uit;
yl lê die donsdunhare op kuikennaakkoppe.

Verbeel jou onder al die lae klere (noodgedwonge
om die slakslymsirkulasie van stol te hoed),
daardie aardige (want aarde is jy en aarde word jy weer)
verlepte oumenslywe      oumensvleise tot leer gelooi
deur die lewe      deur die gejaag na lewe – alles tevergeefs.

Die dood kom. Daar is geen haas aan haar nie.
Haar skrede trap voetjie-vir-voetjie steeds verbete
sonder enkele misstap sonder enige swik of swenk
soos ’n getroue os op die ploegland kom die dood.

Ook God sien die oumens en skud sy kop.
Nie in afkeur nie, maar in medelye...
Nee, stellig nie medelye nie! Wat weet God van oud word af?
Maar God, meer as enige toeskouer, sien altyd die tragedie raak:
Die verkrimpte pasgebore baba – asem in – snel deur nuuskurigheid,
jagsheid,verantwoordelikheid en verkrimpte oudheid – asem uit –
soos ’n blom.

Luister na die oumensstem. Die lewensvuur, wat op ’n tyd
hoog gestook was in ’n oomblik van orgastiese soetseks,
het afgewaan tot klam bewende loute – kabbelend soos urinering.
Ja selfs in die pis hoor jy dit. Die blaas het geen meer ambisie nie.
Die sluise is lam en sonder waterdruk.

Die ergste is die oë: juwele wat in dowwe spoelklippe verander het.
Dis die verlange in die oë wat die ergste is; die wete, die gedwonge
erkenning dat die olie klaar is, die wik opgebrand is,
selfs die lantern bros is. Ongeag die veggees, die neerlaag,
die neerlê, is onvermeidelik. Sy het gewen. Sy wen altyd.

Maar God bejammer sy verkrimpte kinders nie,
want God weet dat die lewe ’n ruspe en die dood ’n papie is.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

28.8.11

Lafenis

My vrou het die lafenis
van 'n Sabbatsrus.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

10.7.11

Toe jy verwagtend was

Ek wens ek was daar
toe jou maag volmaan rond
en vol lewe -- nuwe bloedjonklewe -- was
en jou borsies sappige geswolle
melkvrugte -- vrugte van die Boom van die Lewe -- was
en jou heupe oorlopens toe vol lewe was
en jy soos 'n amoeba te veel lewe gehad het
en twee lewens -- jy en 'n splinternuwe jy -- geword het.

Ek wens ek was daar
en dat ek daar saam met jou -- albei van jou -- gelewe het.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

18.6.11

Sirkus

ek vou my liefde origami:
lelies, swane, perde pronk
voor die voordeur van jou hart
paradeer die hele wellustige sirkus
met styfgespande broekiekouse

wanneer flap jy die tentdeur oop
soos Jael vir Sisera?
sodat ek kan kom dronk raak
aan jou melk
aan die slaap kan raak
aan jou boesem

ek spring deur vurige hoepels
loop tou en vou vir jou swaardlelies

in my drome het jy ’n dolk in jou hand:
jy pen my slaap teen jou hart vas...



Sanko Lewis
Creative Commons Licence

27.4.11

Perskes

Op persketakke lê soos watte die voorvrugte.
Só, op my hart blom my liefde – onverdun.

My beminde, hou nie jou rooi hart gegrendel nie:
die hart is ’n papie wat eens nog moet vlerke kry,
wat oop moet maak soos biddende hande na gebed,
soos ’n lotus voor die son, soos twee pare lippe
vir mekaar, soos bene vir bekende heupe,
soos vriende se kaalpersoonlikhede.

Want in die laat winter bot die perskes
en deur die koue groei die liefde soos tienerborste.

My beminde, hou nie jou soet mond toe nie:
laat my tong soos ’n vinger jou snare stram,
jou perkussie plekke kielie, jou diep liefdesgrotte
maak eggo soos roepende katedraalklokke,
wat luidkeels ween oor die hoog gestookte liefde
en jou brandstapel waarop ek hartstogtelik verteer.

Hoogsomer dra die perskebome swaar aan vrugte
en loop die harte oor van bloed en liefde.

My beminde, vergeet nie die ou verhale nie:
van Adam (óf Romeo) wat deel aan die giftige perskes
en deel aan die lot, want die liefde se drif vrees nie
die dood nie, dit loop doelgerig die duisternis in –
braaf soos Christus, wánt, my beminde,
die slot van die dood bind nie die liefde nie.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

10.4.11

Hemel en hel

Jou stuitjie gee my stuipe!
Dit maak my onuithoubaar kinderlik opgewonde soos kleuters by sirkusse.
En jou keelkuiltjie!
Dit maak my lammertjie lambokspring lendelam verlam verlief.
En jou polse laat my hartpols doodstop.      ophou klop.
En jou mond        my siel hang jou mond aan soos heuning.

Jy’s die hemel wat sal maak dat ek hel toe gaan.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

4.4.11

Ek's nie bygelowig nie

Ek’s nie bygelowig nie, maar jou palmlyne
lyk nes myne. In my oë swem jou sterreteken.
Jy’s tuis in my waterteken se dale en kruine.

My hart gooi dolosse. My bloed sloof
soos rooiafrikanerosse deur die stof.
My ossewa is oppad na jou plaas toe.

Moenie bekommer oor die klaar-koffie nie.
Ek bring vir ons groentee saam.
Agterna kan ons mekaar se teekoppies lees.

Sulke sondige praktyke hoort nie
in ons poorte nie, maar selfs die duiwel weet,
dat ons is bedoel om een vlees te wees.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence