Showing posts with label digter. Show all posts
Showing posts with label digter. Show all posts

4.5.16

Verdig

ek verlang na my gedigte
die kroos van my kieste
van my en my muse
se mistiese lieste

om te dig

om jou lewe sodanig in te rig
dat woorde heilig is
soos geboorte heilig is

is ’n roeping

ek mis my gedigte
die woorde wat in my borskas
se broeikas lank gekweek het
tot my hart se dop klop-klop
oopgebars het met die pynlike euforie
wat slegs ’n moeder (en ’n digter) ken

ek bied jou ’n penning en ’n stuiwer
(die ganse salaris van ’n skrywer)
sê my nou in watter ander mond
en watter ander bekken
loop my poësieë rond
en ledemate rekken

           Liefste Muse,

           ek dink ek het die grot gevind
           waar ons drome oorwinter het:
           ek let tekens van kinderpret
           en rotsprente met twee vrolike figure
           en daar hang nog binnemonds ’n reuk
           van hoop uitgelek deur onskuldige kliere

           maar Lief ek vermoed die ergste:
           ek bespeur óók op die grond
           ’n worsteling en bloed en in die lug
           se onskuldsoet proe ek nóg
           ’n geur gevleg—’n onheilige geveg:
           nie soos die dood nie
           maar soos die gevorseerde

           stilte

           van onderdrukte
           ongedrukte
           van verdrukte
           woorde

           ek verlang na ons gedigte





... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

13.10.14

Raison d’etre

Ek belê—glo dit of nie—in die digkuns:
maak kiste vol woorde bymekaar en kaste vol beelde
en kluise vol metafore en ryg op hangers honderde—
nee duisende—rympare en in houers prop ek klingelde klinkers
vir binnerym okkasies en ek maak plakboeke vol intertekstuele assosiasies
en emosies word versigtig volgens kwaliteit (pyn of plesier) 
en intensiteit (soensag of donnershard) 
en langdurigheid (oogwink flink of tot-die-dood-ons-skei)
gekategoriseer en ervarings word vernuftig alfabeties geïndekseer:

A vir aarbeie en room: onthou jy?
B vir borste en boude. Hoofsaaklik joune.
C vir cafés en cinq à sept, en so aan,
D tot Z.

My geliefde, pardon die cliché:
jy’s my vers se raison d’etre.

22.12.13

Die vergenoegde digter

die vergenoegde digter
sit sy veerpen neer
gooi 'n sakdoek oor sy tikmasjien
maak die woordverwerker toe
en klik op YouTube

die vergenoegde digter
se hart het nie meer pleisters nie
die littekens is vaag en vergete
sy maag is vol, sy keel is klam
hy het vrede met sy gewete

die vergenoegde digter
is oud, getroud, sy tollie krom

die vergenoegde digter
se hart is lou, se siel is stom.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

21.2.13

the poet and his cat
   draped over his shoulder like a river
in the autumn sun sat
waiting for the current of inspiration

and it came
falling like leaves
that the poet saw, but didn't see

the cat concurred
and purred

10.2.13

Vakmanskap / Craftmanship


Vakmanskap

My geliefde vriend,

Ek wil so graag vir jou 'n gedig beeldhou,
maar die klei gly my vingers ongevorm verby,
die beitel skram etsloos teen die marmer wang.

Ek weet goed hoe om 'n vrou se vorm te vou—
my kunstenaarsoog is wel bekend met haar gekruinde lyne,
my skrywerstong ken haar valleie en haar duine.

Maar jy, my vriend, los my woordeloos.
Wie gaan my hierdie vakmanskap leer?
Hoe skryf ek die liefde van 'n mansvriend neer?


Craftsmanship 
My beloved friend,
I so want to sculpt you a poem,
but the clay slips pass my fingers unimpressed,
the chisel ricochets etchless from the marble's cheek.  
I know well how to fold a woman's form—
my artist's eye is well informed with her curved lines,
my writer's tongue knows her dunes and ravines. 
But you, my friend, leaves me speechless.
Who will teach me this craftsmanship?
How do I scribe the love of male companionship?


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

30.4.12

'n Digter se hart

Ek is onlangs weer herinner dat ek 'n digter is
en dat my digtershart, soos elke digter se hart, 'n slet is.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence