Showing posts with label familie. Show all posts
Showing posts with label familie. Show all posts

20.7.16

Vrygebore




Hulle—die wat oor dinge opinies het—sê
dat ek is vrygebore, dat die hele wêreld
is my beskore, dat ek hoog op die skouers
van my ouers staan.

Maar staan dié dan nie hoog
op die skote van hulle grootmoeders
en op die skofte van hulle voorvaders nie?
En is hulle dan nie sedert Kain en Abel
geplant tussen lyke en gevloed
in bloedvergieting nie?

Glo is ek vrygebore,
asof daar nie ’n naelstring
is wat my aan my voorsate bind nie,
asof die testosteroon van my vader
nie ook deur my sweetgate wind nie,
asof die konsentrasiekampe waarin
oumagrootjie meel en glás geëet het,
en die lokasies waarin ons geliefde
bediende meel en rás geëet het,
nie ook mý geskiedenis is nie,
nie ook mý gevangenis is nie.

Hulle wat oor dinge opinies het,
sê ek is voëlvry gebore;
asof kinders nie tronkvoëls
van hulle ouers se verledes is nie.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

6.1.13

Skande op die strand


die see lig haar Viktoriaanse frok
in rolle en valle om haar bleek enkels op
en kom dans gallop-gallop op ons stoep

vir 'n Viktoriaanse meisie gedra sy haarself
skaamteloos met al die gedans en beenwys
ma is g'n beïndruk dat ons alweer

ons handdoeke moet skuif nie
maar ek en pa en boeta geniet die uitsig
en wolffluit vir die branders


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

31.10.11

Eendag as ek groot is

Eendag as ek groot is
gaan ek 'n groot man wees
met sulke growwe baard en groot spiere wat blink
en sulke kwaai stem soos 'n waghond wat WOEF-WOEF!
en dik vingers op my groot-oom hande
SO groot nes my hele gesig, so groot,
en ek gaan steeeerk wees,
die sterkerste man ooit!

Maar nou is ek nog 'n kind—
Pa sê ek's 'n sissie.

Eendag gaan ek groter as Pa wees
en dan, as ek soooo groot is,
gaan ek nie met hom speel nie.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence