Showing posts with label verlies. Show all posts
Showing posts with label verlies. Show all posts

18.9.19

soos waterverf

Jou vat aan my
kol my buitelyne
soos waterverf asof ek oplos
met die streel van jou vingers
oor my keel asof elke plek
waar jy proe en lek
vloei, gloei, verdamp—

skadu’s voor ’n lamp
fluisterwoorde
in die wind

soos onskuld
noodlottiglik verslind.

Hoeveel van my gaan oorbly
ná al jou kastyery?




... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

13.6.17

Kunsbeenrituele

Palms om borste,
arms om heupe,
lippe om woorde
vou die nostalgie nes vlerke
ver vanuit die verlede
’n nagmantel rondom ons hede:
hier is nie wierook of mirre
om gister se kwaai gode
te paai nie: slegs bloed is genoeg
as offer vir daardie kunsbeenrituele
van ouds wat ons siele soos binnegoed vervleg
het—die bloed van ons ongebore,
nooitgebore kinders wat nes ongesêde,
nooitgesêde drome in vlakgrafte
om ons voete lê—soos verwyt:
ek het jou lief, my lief, veraltyd.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

18.2.15

Alleenheid is ’n koue plek

Ek knip my oë en jy is weg
en sedertdien is niks meer reg nie;
niks wat ek sien het fokus nie;
geen woord is my mond se kneg nie.

Verwilderd soek ek heinde
en verward roep ek verre,
maar jy antwoord nie,
en my benoude siel het geen rus nie.

Die berge bulder,
maar bied g’n hulp nie;
my gille is uitasem en eggo
klankloos teen die kranse.

My beangste gedagtes is ganse in vlug;
my ganse gedagtes vlug na die somerplek
waarheen jy (bid ek) getrek het.
Ek bibber. Alleenheid is ’n koue plek.

Kyk, ek stuur vir jou ’n swerm vere:
pluk ’n pen my geveerde geliefde
en skryf vir my ’n gedig op ’n poskaart
met jou portret daarop geverf,

sodat ek my nagdrome ’n idee kan gee
waaroor om te dagdroom.
Ek trek ons herinneringe oor my
soos ’n blou trui.

Ek het my oë geknip en toe’s jy weg
en sedertdien is niks meer reg nie.
Ek draai my bewende blou rug,
en wens jou met elke rotasie t'rug.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

9.12.14

'n Gejaag na wind

Wie, hier, kan vir my sê:
waar die westewind haar kop neerlê,
waar die oostewind haar skuilingvind,
waarheen my mooi liefling gegaan het,
waarom sy my agter gelaat het?


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

19.8.14

Belemmer / Blundered

Belemmer

'Jy het die liefde-van-jou-lewe verloor,'
sê jy asof ek dit nie weet nie—
my hartklop is
          uit gelid;
my toekomsdrome is ou verbruinde kiekies
tot as verbrand; my hoop wat eens
na lemoenbloeisels geruik het, het gegis
en asyn geword; my holtes wat op 'n tyd
reservoirs vir liefde was, is nou stowwerige
pakkamers van ru verlange en kru verlies.

Wat jy nie begryp nie:
lankal reeds het jy my verloor
—'n lyn van 'n gedig of melodie
as mens aan die slaapraak en dan verdamp,
soos 'n skaduwee wat skrik vir 'n bedlamp,
soos kiekies in 'n vuur, soos hoop wat te lank
in holtes en hole vergete laat lê is;
soos 'n ridder wat 'n soen belowe is,
maar ongekus is—jy het ons reeds
daardie eerste keer belemmer,
toe jy my hart verruil het,
en op 'n ander hart
se klop gewed het.

Nee, ek wil nie met jou trou nie.
Jy is nie meer my trouvrou nie.


Blundered

'You have lost the love-of-your-life,'
you say, as if I don't know it—
my heartbeat is
         out of step;
my future dreams are old browned photos
burned to ash; my hopes that once
smelled of orange blossoms had fermented
and turned vinegar; my hollows that were once
reservoirs for love have become dusty
storerooms of raw longings and rude losses.

What you do not comprehend:
you have lost me already long ago—
a line of a poem or melody
when one falls asleep and then evaporates,
like a shadow frightened of a bedside lamp,
like photos in a fire, like hope left lying
forgotten in hollows and trash heaps;
like a knight that was promised a kiss,
but with lips untouched—you blundered us
already that first time,
when you exchanged my heart,
and bet on the heartbeat
of another.

No, I do not want to marry you.
You are no longer the one for me.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

16.8.14

Speeksel-sentiment

Vanaand het ek my tandeborsel,
met sy hartseer verlepte kapsel,
in die asblik gegooi.

Sonder 'n tandeborsel van my eie
het ek my aan jou tandeborsel,
wat vir maande reeds soos 'n verlange
geplant staan in my badkamer, vergryp.
Sal jy bly wees om te verneem
dat dit nog in 'n goeie toestand is?
Die haartjies: tril-regop soos 'n wilde
territoriale diertjie wat spoeg en sis.

En hoekom dit nie gebruik nie?
Dis nie asof jy terug kom om
die vergete wees op te raap nie.

Hoeveel ander tandeborsels was teen
hierdie tyd nie reeds intiem met jou mond
soos my mond met jou mond was nie?
Hoeveel ander tandeborsels ken nie reeds
die groewe van jou verhemelte soos net die tong
van 'n geliefde die verhewe hemelte
van 'n geliefde se mond ken nie?

Hoekom dit nie gebruik nie?
Sal ek dan gril vir dit wat ek eens bemin het?
Was jou kieme en my kieme
nie op 'n tyd mekaar se geliefde kieme nie?

Ek verbeel my ek proe jou:
en skrop my tande en vleise,
binnewange en buise—
my erektiele tong krap ek
vol van jou eentydse atome
en ent myself homeopaties
met jou peperment essensies. 

Van môre af is dit my tandeborsel
en nie meer joune nie.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

25.11.13

gun g'n

Jy draai jouself op my soos 'n rug
soos 'n koue skouer gun jy my g'n
huilplek nie, g'n troosplek teen jou bors nie.

Jy lees my e-posse, kyk na my tekse
maar gun g'n repliek nie, wys geen verlange
of verdriet nie.

Het jy my dan nie op 'n tyd lief gehad nie?
Of het ek jou koulikheid misgis vir oulikheid?
My mistake.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

4.8.13

sedert dinsdag

die son kom op
die son gaan onder
die dag is blou
my hart is donker

sedert dinsdag reeds ignoreer jy my
jy bel nie na my huisfoon of my sel nie
jy los geen boodskappe, nie stem of teks nie,
my e-pos se inlaai is vol gemorspos
(alle pos wat nie jou pos is nie is mos)

die son gaan onder
die maan is donker
die son kom op
my hart is blou

die son is op
my hart is rou
die son gaan onder
sonder jou


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

15.6.13

Die pyn van liefde

'n Vryvertaling van 'n ou anonieme Kwakwaka'wakw gedig. 


Vuur stormloop deur my lyf met die pyn wat dit is om jou lief te hê;
pyn stormloop deur my lyf met die vuur van my liefde vir jou;
siekte loop sirkels in my lyf met my liefde vir jou;
pyn soos 'n blaas wat wil oopbars met my liefde vir jou—

Ek onthou steeds wat jy vir my gesê het.
Ek dink aan jou liefde vir my.
Ek word verskeur deur jou liefde vir my.

Waar gaan jy heen my geliefde?
Ek hoor jy gaan weg hiervandaan.
Ek hoor jy gaan my hier agter laat.

My lyf is verlam van verdriet.
Onthou wat ek vir jou gesê het, my lief.
Tot weersiens, my lief, totsiens—


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

26.5.13

weersiens

jy draai jou rug op my soos die verlede
en ek, ek gooi my arms om jou bene

          ne me quitte pas, ne me quitte pas
                    ne me quitte pas, ne me quitte pas!

in jou koffer weg gepak, lê die offer
van my hart en die storieboek
wat vertel van die versoeking en die val
van die sondebok en die beloofde land
van slegvroue en van slegter mans
van verraaiers, van 'n tweede kans


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

28.12.12

Onthou U Here?

Onthou U Here, daardie aand toe ek kom smeek het?
Dit moes 'n wintersaand gewees het,
want die benoudheid van my klaaglied
het soos 'n natgereënde jas koud om my geklou.

Onthou U Here, hoe ek onbaatsugtig, soos Christus u Seun,
nie om my eie welstand gepleit het nie?
maar vir die van mý seun—totdat my hart bloed gesweet het
en ek die voete van die olyfbome met my trane gevoed het.

Onthou U Here, hoe ek my vertroue soos 'n diertjie
in die linne van geloof na u altaar gebring het?
Hoe ek gesnik het, Here, “spaar tog my kind van díe verdriet,
want U is God en U is Goed, laat u goeie wil geskiet!”

Is dit Here, omdat ons nie u Seun gespaar het nie
dat ons seuns ook nie die noodlot vry spring nie?
Here, is U toe al die tyd moedswillig soos 'n kind,
daarom dat U my kind deur wolwe laat verslind?

Onthou U Here, daardie aand toe ek kom smeek het?
Was my pleidooie dan gekaap óf misplaas óf verskeer?
Hoe anders moet ek dan u stilswye interpreteer?
Is dit Here, omdat ons nie u Seun gespaar het nie?


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

24.8.12

Good Riddance!

If I should lose you,
I say: 'good riddance!'
I've already lost my heart,
what more is there to lose?

Without my heart's eye
sunsets are without colour,
the night sky is without a diadem,
and flowers are cadaver claws
grabbing at the void;
without my heart's ear
music knows no melody,
birds are nihilistic sirens
screaming existentialistic slogans
at each other; without my heart's
tongue what is their to taste
but palateless protein and chewy
carbohydrates and frothing fat?
Without my heart's skin all touch
is the touch of an open wound.
For without my heart what
is their to smell but the raw flesh
and gaping hole in the centre
of my bleeding chest?

If I should lose you
'good riddance!' say I,
for I have lost all
when I lost my heart to you.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence