Showing posts with label woorde. Show all posts
Showing posts with label woorde. Show all posts

13.11.19

Digterlike nostalgie

daar was ’n tyd wat mense nog
met geheiligde woorde bekoor het
soos verleidende muses in bosse

daar was ’n tyd, lank lank gelede
toe troebadoere nog gestaan het
onder balkonne en onder mane

daar was ’n tyd wat betoorde
metafore my mond uitgeval het
soos Alexandrië se brons perkamente

waar is daai tyd waar elke sin
konnotatiewe waarheid het
en elke klankgreep binne-in dringe?



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

13.6.17

Kunsbeenrituele

Palms om borste,
arms om heupe,
lippe om woorde
vou die nostalgie nes vlerke
ver vanuit die verlede
’n nagmantel rondom ons hede:
hier is nie wierook of mirre
om gister se kwaai gode
te paai nie: slegs bloed is genoeg
as offer vir daardie kunsbeenrituele
van ouds wat ons siele soos binnegoed vervleg
het—die bloed van ons ongebore,
nooitgebore kinders wat nes ongesêde,
nooitgesêde drome in vlakgrafte
om ons voete lê—soos verwyt:
ek het jou lief, my lief, veraltyd.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

24.2.16

Tongspunt

Hierdie ding wat ons doen—
wat sal ons dit noem?

Hierdie gepeuter met mekaar
se gekneusde harte, hierdie onverskillige
gevroetel met mekaar se breekware, astrand
kleuters in 'n kristalwinkel—
kyk hoe hardloop ons harte
sonder toom of ruiter
deur die landskap van ons
oorvleulde lewens,
vertrap die landerye,
skop stof op, keer tafels om,
vase val, en mors van speserye—

Wat word dit genoem?



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

18.2.15

Alleenheid is ’n koue plek

Ek knip my oë en jy is weg
en sedertdien is niks meer reg nie;
niks wat ek sien het fokus nie;
geen woord is my mond se kneg nie.

Verwilderd soek ek heinde
en verward roep ek verre,
maar jy antwoord nie,
en my benoude siel het geen rus nie.

Die berge bulder,
maar bied g’n hulp nie;
my gille is uitasem en eggo
klankloos teen die kranse.

My beangste gedagtes is ganse in vlug;
my ganse gedagtes vlug na die somerplek
waarheen jy (bid ek) getrek het.
Ek bibber. Alleenheid is ’n koue plek.

Kyk, ek stuur vir jou ’n swerm vere:
pluk ’n pen my geveerde geliefde
en skryf vir my ’n gedig op ’n poskaart
met jou portret daarop geverf,

sodat ek my nagdrome ’n idee kan gee
waaroor om te dagdroom.
Ek trek ons herinneringe oor my
soos ’n blou trui.

Ek het my oë geknip en toe’s jy weg
en sedertdien is niks meer reg nie.
Ek draai my bewende blou rug,
en wens jou met elke rotasie t'rug.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

13.10.14

Raison d’etre

Ek belê—glo dit of nie—in die digkuns:
maak kiste vol woorde bymekaar en kaste vol beelde
en kluise vol metafore en ryg op hangers honderde—
nee duisende—rympare en in houers prop ek klingelde klinkers
vir binnerym okkasies en ek maak plakboeke vol intertekstuele assosiasies
en emosies word versigtig volgens kwaliteit (pyn of plesier) 
en intensiteit (soensag of donnershard) 
en langdurigheid (oogwink flink of tot-die-dood-ons-skei)
gekategoriseer en ervarings word vernuftig alfabeties geïndekseer:

A vir aarbeie en room: onthou jy?
B vir borste en boude. Hoofsaaklik joune.
C vir cafés en cinq à sept, en so aan,
D tot Z.

My geliefde, pardon die cliché:
jy’s my vers se raison d’etre.

10.9.14

Soenseisoen

Soen my net—soen my nou;
soen my op die sagteplekkie, broos en beskermend
soos 'n nuwe moeder 'n splinternuwe kind
waaraan die nattigheid nog klou;
of soen my op my voorkop soos 'n trots patriarg
wat 'n agter-agterkleinkind inhuldig; of gee my 'n heilige kus
soos 'n skepper wat lewe sy skepsel se neus binne blaas;
of plant jou tong wellustig en profaan my praatput in,
maak dat ek my woordesluk en aan jou soen verstik;
byt my nek met vampieriese dors; suig soos 'n onvergenoegde vul
aan my harige bors; lek die testosteroon aan my pektoraal,
proe my feromoon in die bedompige koelte van my armholte
en volg met jou tong die golwe van my ribbekas,
die kruise van my buik, die mik wat na my pubis lei,
my fallus en my bas; knibbel agter my knieknoppe en kuite
en tussen my tone asof jy 'n kewer is; kruwel mondeliks
oor elke plek wat deel van ek is, sodat ek gelyktydig
orgasties gril en liries gil—soen my net,
want daar is min dinge wat so seldsaamsoet
soos 'n soen is, eens die seisoen aangebreek het.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

1.10.13

Wat om met 'n geheim te doen / What to Do With a Secret

Wat om met 'n geheim te doen

Wanneer jy die albatros
(swaar soos 'n siekte)
nie langer wil dra nie,
soek, met 'n sielsoeke, na 'n boom.

Dit moet 'n gróót boom wees:
'n skaduwee van daardie éérste boom
van kennis van goed en van kwaad;
'n boom wat die gewig van 'n geheim
tot ná die derde en die vierde geslag kan dra.

'n Kremetart sal deug
of 'n ou plaasbloekom
of 'n akkerboom
wat vir generasies
lank kan swyg.

Wanneer jy die régte ene vind,
soek vir 'n leë houtkappernes
(of as dit moet, maak self 'n gat
met waarheid en flymskerpwoorde)
en vou jou hande buis daarom.

En dan, soos die ou Sjinese
wat wel bekend was met allerlei rituele,
fluister jou geheim die holte binne

en vinnig—voor die vlugtige ding kan vlug!—
smeer die gat haastig toe met modder
en seël dit met 'n soen.

Dis wat jy met 'n geheim moet doen.

Óf, belei dit. Op eie risiko.



What to Do With a Secret
When you don't want to carry the albatross
(heavy like an illness) any longer,
search, with a soul search, for a tree.
It must be a big tree:
a shadow of that first tree
of knowledge of good and of evil;
a tree that can carry the weight of a secret
until after the third and the forth generation.
A baobab will do
or an old farm eucalyptus
or an oak
that can keep quiet
for generations.
When you find the right one,
search for an abandoned woodpecker's nest
(or if need be, make a hole yourself
with truth and sharp words)
and fold your hands around it.
Then, like the ancient Chinese
who were well versed in all types of rituals,
whisper your secret into the hole
and quickly—before the volatile thing can flee!—
cover it hastily with mud
and seal it with a kiss.
That's what you should do with a secret.
Or, confess it.
At your own risk. 

10.2.13

Vakmanskap / Craftmanship


Vakmanskap

My geliefde vriend,

Ek wil so graag vir jou 'n gedig beeldhou,
maar die klei gly my vingers ongevorm verby,
die beitel skram etsloos teen die marmer wang.

Ek weet goed hoe om 'n vrou se vorm te vou—
my kunstenaarsoog is wel bekend met haar gekruinde lyne,
my skrywerstong ken haar valleie en haar duine.

Maar jy, my vriend, los my woordeloos.
Wie gaan my hierdie vakmanskap leer?
Hoe skryf ek die liefde van 'n mansvriend neer?


Craftsmanship 
My beloved friend,
I so want to sculpt you a poem,
but the clay slips pass my fingers unimpressed,
the chisel ricochets etchless from the marble's cheek.  
I know well how to fold a woman's form—
my artist's eye is well informed with her curved lines,
my writer's tongue knows her dunes and ravines. 
But you, my friend, leaves me speechless.
Who will teach me this craftsmanship?
How do I scribe the love of male companionship?


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

3.12.11

Net nie 'n liefdesgedig nie

Ek wil so graag ’n gedig skryf, maar ek het geen inspirasie nie. Ek kan altyd oor die liefde skryf – liefdesgedigte gebeur maklik vir my.

Liefdesgedigte is soos bloedgieting. Dit neem nie baie nie. / Die ligste prik en die siel anus oop, en uit ontkiem die liefdesgedig. / Selfs ’n kind, gehok aan ’n tekort aan woorde, / kan met dié bietjie tot haar beskikking ’n liefdesgedig teel / vir haar ma, of haar pa, of haar kys. / Ja, selfs die Rugby-jock, kan vir sy gryp sê: / Ek dig jou soos my tokse!

Om oor die vrou te dig: die lyn van haar lippe te beskryf as hoë wenkbroue; / haar olieklam mond as ’n vaginarooi arbei; / haar tong wat soos ’n hand van my hart ’n troeteldier kan maak – dit kan liefkoos – / te beskryf as ’n lemmetjie wat genadeloos my polse sny; / haar tepels: geniepsige Braille wat roep om gelees te word; / haar gul heupe: ’n vibrerende cello; is maklik om te dig.

Om oor die passie – stellig nee! die wellus – te dig, neem min sweet; / inteendeel dis in die sweet (óns sweet wat aan mekaar plak soos tweespalkwoorde, / byvoorbeeld hart[s]-tog, hart[s]-verlange, hart[e]-dief) / dat die wellustigste gedigte lê en prut.

Dit vat nie veel om oor die liefde te dig nie. Daarom wens ek, ek kan ’n gedig skryf. Ek is bronstig om ’n gedig te skryf. Net nie ’n liefdesgedig nie. Maar buiten die liefde is daar geen inspirasie nie.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

17.11.11

Nagblom

'n Vryvertaling uit Koreaans van 'n gedig deur Kim Sung-Ja.


ek wil met jou praat
iets vir jou benadruk

maar die onoorbrugbare slaap
maak woorde stom

die onbekombare slaap
tap denke leeg

daarom pos ek vir jou
                         'n wit glimlag


박꽃 – 김성자

보고싶단 말도
그립단 말도
차마 할 수 없어
잠못 이루는 밤
하염 없이
너에게 보내는
하얀 미소

... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

28.9.11

Tong

jou tong wat teer kan lek kan óók kattong
my hart breek voor die hoëtoon van jou liederlike tong
wat ééndag lover
ééndag wraakagtig is

jou waaragtige waarheidstong maak seer tot op die been
dit skei sening en murg
jou aangrypende tong verwurg

jou ongevoelige dooiemansvingertong
steek sluipmoordskutpresies

deur die lewendige woord
pleeg ’n letterlike tong moord


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence