Showing posts with label mens. Show all posts
Showing posts with label mens. Show all posts

29.4.19

"wat is die mens"

Laat ek my verwonder
aan die wonder van jou:

jý—mens—wat beide duister en lig is,
beide demoon en verlig is,
staan regop, kop orent en kyk die dieptes
van donker heelalle en diepste sielle binne
en sien hoe jý—mens—gewigtig is:

dat jou doen en jou late
bewonderingswaardige
gravitasie het—
dat jy kan seermaak en heelmaak
en doodmaak en liefdemaak

—jou elke denk en daad
is sakraal en verraad.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

1.3.15

Strek

Soos 'n vel wil ek uitstrek, soos 'n veld ooprol
en die son soos liefde indrink—my hart oopvlek
nes palms na gebed om die seën te vang.

Ek wil my self strek, die senuwees rek,
die morele sinapse soos 'n lier
sakrosant stem en plegtig stram.

My talente wil ek strek van horison tot aardsrand,
my verbeelding soos die konstelasies
in ses pare in span, 'n koets op die melkweg.

Laat ek myself strek: my vrese raakvat
en inperk, met geoefende soepel spiere
en 'n vasberade kyk vasvat en uitwerp

die duisternis in. Ek vrees nie die donker nie.
My siel lê uitgestrek en spin tussen die sterre
soos 'n swart kat wat diep die donker in kan sien.

Mag ek myself oopstrek soos 'n gekruisigde
wat in innige pyn empatiek almal wat gepynig
is omhels met wyd gestrekte oop omarmde arms.

God, strek my soos 'n gordel en omgord my
soos 'n profeet en maak my kinderlik nuttig
vir die liefdestaak van menswees.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence