Showing posts with label voël. Show all posts
Showing posts with label voël. Show all posts

13.9.25

Langsamerhand

Terwyl ons stap,
langsamerhand
gly my linkerhand
jou regter een verby:
ons pinkies
—fladderende vinkies—
ontmoet,
groet in vlug
en land weerskant
van ’n olyfboomtakkie:
op hierdie rakkie
en met been en vlees
word ’n nes geweef.

Hier sal ons droomblou
gespikkelde eiertjies
lou-lou uitbroei,
en om die beurt sal ons
die ruspes bring,
totdat ons drome
self kan sing.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

20.5.19

Ná ’n reeks voëlskilderye



’n inkkol kraai
’n kwashaal haan
’n verfstreep vink
’n mossiemerk
’n spreeu
’n blerts
’n spatsel swael
’n vlerk


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

1.10.13

Wat om met 'n geheim te doen / What to Do With a Secret

Wat om met 'n geheim te doen

Wanneer jy die albatros
(swaar soos 'n siekte)
nie langer wil dra nie,
soek, met 'n sielsoeke, na 'n boom.

Dit moet 'n gróót boom wees:
'n skaduwee van daardie éérste boom
van kennis van goed en van kwaad;
'n boom wat die gewig van 'n geheim
tot ná die derde en die vierde geslag kan dra.

'n Kremetart sal deug
of 'n ou plaasbloekom
of 'n akkerboom
wat vir generasies
lank kan swyg.

Wanneer jy die régte ene vind,
soek vir 'n leë houtkappernes
(of as dit moet, maak self 'n gat
met waarheid en flymskerpwoorde)
en vou jou hande buis daarom.

En dan, soos die ou Sjinese
wat wel bekend was met allerlei rituele,
fluister jou geheim die holte binne

en vinnig—voor die vlugtige ding kan vlug!—
smeer die gat haastig toe met modder
en seël dit met 'n soen.

Dis wat jy met 'n geheim moet doen.

Óf, belei dit. Op eie risiko.



What to Do With a Secret
When you don't want to carry the albatross
(heavy like an illness) any longer,
search, with a soul search, for a tree.
It must be a big tree:
a shadow of that first tree
of knowledge of good and of evil;
a tree that can carry the weight of a secret
until after the third and the forth generation.
A baobab will do
or an old farm eucalyptus
or an oak
that can keep quiet
for generations.
When you find the right one,
search for an abandoned woodpecker's nest
(or if need be, make a hole yourself
with truth and sharp words)
and fold your hands around it.
Then, like the ancient Chinese
who were well versed in all types of rituals,
whisper your secret into the hole
and quickly—before the volatile thing can flee!—
cover it hastily with mud
and seal it with a kiss.
That's what you should do with a secret.
Or, confess it.
At your own risk. 

5.10.12

Tronkvoël se wraak

Met verwysings na William Blake se "How sweet I roam'd from field to field" en Maya Angelou se "I Know Why the Caged Bird Sings".



jy verf jou mure hemelblou
en vang my met 'n net
jy tronk my in 'n voël se kou
en hang my bo jou bed

deur die tralies steek jy stokkies
jy skeer met my die gek
hoeveel ander is in hokkies
versteek in jou woonplek?

jy voer my kamma-liefdetjies
winkoog en blaas soene
'n man soek meer as krummeltjies
leegdop visioene

'n gehokte voël kan óók fluit
'n klaaglied is óók mooi
'n tronkvoël sing oor vryheid
en oor predator en prooi

eendag is eendag en ek is vry
ek weet tog waar jy bly
ek gaan jou aan die keel beet kry
jou koue hart uit sny



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence