![]() |
| "Die weefster" (met haspel en spil) deur William-Adolphe Bouguereau, olie op doek, 1873. |
Op haar haspel is my veselagtige hart geplant—
'n ontliggaamde kop op 'n spies:
Sy spin en spin en spin en tol my are skroefdraad
op haar spil tot niks behalwe 'n koper katrol
vol geroeste gare van my hart oorbly nie.
Met weefraam stram gereed weef sy
karmosyn kettingdraad en sy weef
skarlaken inslagdraad en weef sy
totdat niks van my oorbly nie,
want sy het my opgeweef en deurgeweef
en ingeweef en weggeweef en klaargeweef—
'n tapisserie vol bloederige patrone:
kýk, dis ek, die weefster se geliefde!
... Sanko Lewis
